Gert werk al aan sy vierde boek
Tradisie-vaste Zoeloes vir wie ek al hierdie boek (Themba se Lobolo) gelees het, is verstom dat ’n witman dit met soveel insig geskryf het.
SECUNDA – Hy skryf nie boeke nie, hy vertel stories.
Só meen mnr. Gert Jordaan (73), ’n afgetrede rekenmeester met ’n gawe om mense aan sy lippe te laat hang met sy kleurryke stories en karakters.
Sy derde boek, Laban, is reeds gedruk en hy skryf al vir sowat nege maande aan ’n boek oor die Bybelse verhaal van die verlore seun, maar hy skryf baie uit die pa se oogpunt wat op dié seun se terugkeer wag.
Die storievertellery kom eintlik al van kleinsaf.
Mnr. Jordaan het op Oudsthoorn as een van 11 kinders grootgeword.
“My ma het sulke heerlike stories vertel. Naderhand het ek ook stories aan my eie kinders vertel, maar toe die kleinkinders opdaag, het ek begin om die stories neer te pen.”
Mnr. en me. Susan Jordaan het agt kleinkinders waarvan twee in Australië woon.
“Toe die outjies wat hier naby woon nog klein genoeg was, het hulle sommer vir ’n week kom kuier en dan het ek vir hulle stories vertel. Later, toe hulle begin skoolgaan het, kon hulle nie meer so baie kom kuier nie. Hulle het heeltyd vir Oupa Serrie (mnr. Jordaan se bynaam oor sy sussies nooit Gerrie kon sê nie) gevra.”
Mnr. Jordaan het gereeld stories vir sy kleinkinders geskryf en dit dan saam met ’n opgemaakte pakkie lekkernye aan die kinders gepos.
“Hulle was Kersfees meer opgewonde oor Oupa se pakkie as oor Kersvader,” het hy laggend vertel.
Een van die stories wat hy vir die kleingoed geskryf het, was Okkert en die Groot Boom. Sy dogter Inge wat in Brisbane, Australië woon, is met ’n Lebanees getroud en het die storie in Engels vertaal om vir haar man te lees.
Hy het só baie daarvan gehou, dat hy dit vir ’n vriend in Arabies vertaal het. Dié vriend is ’n kunstenaar en het besluit om illustrasies te maak.
Hulle het toe sowat 200 eksemplare van dié boekie in Saudi-Arabië laat druk. Dit was opsigself ’n groot gedoente omdat die voorblad die prentjie van ’n kerkgebou met ’n piepklein kruis op die kerktoring het en die drukkers het eers beweer dat dit aanstoot sou gee.
“Dié boekie is nou al oor die wêreld heen versprei na Afrikaanssprekende vriende in onder andere Kanada, Peru, Arabië en Australië,” het mnr. Jordaan vertel.
Die tweede boek wat hy aangepak het, is Themba se Lobolo in 2008. “Let wel, dis nie die selfstandige naamwoord lobola nie, maar die werkwoord lobolo,” het mnr. Jordaan verduidelik.
Lees ook: Gilleam Viljoen staan sterk na motorfietsongeluk waar hy albei knieë breek

Hy praat vlot Zoeloe. “Ek het vir jare op die myne gewerk en baie by die werkers geleer van hul kultuur, die wyse waarop hulle dinge beskryf en die hele tradisie rondom die betaal van lobola.”
Dié boeiende verhaal verduidelik hoeveel ’n jong man moes deurmaak om die meisie van sy hart se waarde te verstaan. “Tradisievaste Zoeloes vir wie ek al die boek gelees het, is verstom dat ’n witman dit met soveel insig geskryf het.”
Een van dié mans het mnr. Jordaan daarop gewys dat lobola eintlik reeds in die Bybelse tyd betaal is, soos toe Jacob vir Lea en Ragel gewerk het.
“En só het ek by Laban uitgekom en het ek dit op my hart gehad om dié geslepe karakter se storie te vertel.”
Mnr. Jordaan het vir bykans ’n jaar aan dié boek geskryf. “Ek skryf wanneer ek rustig in my hart is, anders het ek geen inspirasie nie.”
Iewers in mnr. Jordaan se agterkop is daar reeds nog ’n storie oor die Anglo-boereoorlog aan die broei.
“Maar ek is nog nie gereed om myself ’n skrywer te noem nie. Ek vertel vir nou eers nog net stories. My werklike liefde is houtwerk.”
Om dit te beaam, het hy ’n pragtige houtkis met afskortings wat spesiaal vir juwele ontwerp is, nader getrek.
Hy het al vir elke vrou in sy gesin só ’n kissie gemaak, kompleet met die vrou se naam op gegraveer.
Dan is daar die houtmeubels wat die huis vol staan en die oulikste tandemuisboksies vir die kleingoed.
“My ma het altyd gesê: ‘Doen trou maar die geringe, en menige las word lig’.”



