EVANDER – Me. Estelle Swart laat haar nie onderkry nie. Sy is onlangs vir die tweede keer met kanker gediagnoseer.
Kanker is in 2016 in haar regternier gediagnoseer en haar regternier, en ’n groot deel van haar linkernier is toe verwyder.
Die kanker is dié keer in die stukkie oorblywende linkernier ontdek.
Sy het Donderdag, 8 Julie vir ’n roetine afspraak na haar onkoloog gegaan toe hy die kanker opgetel het.
Me. Swart het nog nie weer haar dokter gaan sien om te bespreek wat die beste behandeling gaan behels nie, maar sy beplan om die oorblywende deel van haar linkernier te laat verwyder.
Sy sal dan dialise moet kry totdat sy ’n nieroorplanting kan kry.
Dié proses neem tyd omdat sy eers heeltemal skoon moet wees van die kanker en dan by die staat aansoek sal moet doen vir ’n nieroorplanting.
Toe kanker die vorige keer by haar gediagnoseer is, het minstens 29 mense aangebied om hul niere vir haar te skenk en dié keer het daar ook reeds verskeie vriende en familielede aangebied.
“Dit maak my hart warm om te weet daar is soveel mense wat bereid is om hul niere te skenk.
“Dit beteken dit wat ek doen en dit wat ek saai in mense se lewens, val nie op harde grond nie.”
Die wind is uit me. Swart se seile geneem toe sy vir die tweede keer gehoor het sy het kanker.
“Dit was vir my ’n baie groot skok en was die laaste ding wat ek verwag het,” het me. Swart gesê.
“Die eerste keer het ek geweet ek het kanker, ek het net nie geweet watter soort kanker nie.
“Dié keer was daar geen simptome nie en ek het geen pyn gehad nie.”
Sy het egter besluit om die beste van haar lewe te maak en elke dag voluit te leef.
“Ek gaan steeds volgende week na Klein Kariba op die ATKV se kongres vir drie dae en sal dan my dokter gaan sien as ek terug is.
“Ek vat dit met ’n positiewe gemoed.
“Hoekom moet ek my nou opwerk en kwel oor dinge wat ek nie kan verander nie?”
Die eerste keer het me. Swart nie chemobehandeling of bestraling gekry nie omdat kanker in die niere anders behandel word.
Haar dokter het egter vir haar gesê daar is nou ’n nuwe soort behandeling vir kanker in die niere beskikbaar.
Me. Swart het nie gaan lê die eerste keer toe sy met kanker gediagnoseer is nie en steeds haar twee werke gedoen en haar ideale verwesenlik.
Sy is ’n DA-raadslid en is die opsigter van ’n woonstelgebou op Secunda.
Buiten haar twee werke, gee sy baie aandag aan verskeie gemeenskapsprojekte en gee graag terug aan die gemeenskap.
Sy het die handsakprojek by die Thuthuzela-sentrum by Evander Hospitaal begin.
Dié sentrum reik uit na slagoffers van verkragting en me. Swart het ’n leemte gesien om vir slagoffers handsakke met broodnodige toiletware wat sanitêre doekies, waslappe, seep, onderklere, handdoeke en iets spesiaals soos ’n teddiebeertjie insluit, in te samel.
Sy gaan lewer gereeld handsakke by die sentrum af wat sy ingesamel het.
Oor haar pad met kanker het sy gesê so iets verdiep jou menswees en maak dat jy anders dink en voel oor die lewe.
“By Getsemane het Jesus gebid dat die lydensbeker verby moet gaan en God het dit nie laat verby gaan nie, en ek voel dié is my beker wat ek nou moet drink.
“Ek glo God stuur nie siektes oor ’n mens se pad nie, maar ek glo hy laat dinge toe.
“Ek glo God het ’n doel met alles en dat my lewensplan nog voor my geboorte al uitgelê is en daar is nie by my vrae van waarom of hoekom nie.
“Dit is my beker en goud is deur vuur gelouter om blink en mooi anderkant uit te kom.
“Ek gaan aan met my lewe en is nie bang nie.
“Ek voel dis oor my pad gebring en ek gaan die beste daarvan maak.”
Me. Swart hou daarvan om besig te bly en is dankbaar vir ’n werk met uitdagings waar sy kan groei en haar maksimum potensiaal kan bereik.
“Vir so lank as wat ek asem in my liggaam het en daar bloed deur my hart pomp, sal ek doen waarvoor ek op die aarde geplaas is.”
Me. Swart moet deesdae met ’n kierie loop omdat haar bene heeltyd pyn.
Haar bene se spiere gee in en me. Swart het gesê sy besef nou hoe gestremde mense sukkel met dinge soos om parkering te kry in die dorp, toeganklikheid en winkels en plekke wat rolstoelvriendelik is.



