MunicipalNews

Boer sukkel al ses jaar met rioolprobleem

Riool loop als ses jaar en munisipaliteit doen niks.

KINROSS – ’n Boer van Kinross, mnr. Johan Barnard, sit met sy hande in die hare weens ’n rioolprobleem op sy plaas.

Volgens hom is dit al die afgelope ses jaar aan en af dat die riool op dieselfde plek op sy plaas langs die R29-pad buite Kinross, uitloop.

Sy koeie het baie miskrame gehad en hy vermoed dit was weens die rioolwater wat hulle gedrink het.

Hy het hulle vir die winter na ’n ander kamp geskuif en die miskrame het afgeneem.

Mnr. Barnard het die rioolprobleem die afgelope ses jaar al verskeie kere by die rioolplaas op Kinross en by Govan Mbeki Munisipaliteit aangemeld, maar dit is steeds nie opgelos nie.

“Hulle het so paar jaar gelede dit kom oopmaak, maar nou loop dit net weer uit en hulle doen niks nie,” het hy gesê.

Mnr. Jan du Plessis, voorsitter van AfriForum se Secunda-tak, het verlede week gaan kyk na die rioolprobleem en gesê daar moet dringend aandag aan gegee word.

Mnr. Barnard se rioolprobleem is nie die enigste een in die omgewing nie, mnr. Du Plessis het na minstens sewe ander op Evander en by Charlie 5-hek naby Sasol ook gaan kyk en dit by die munisipaliteit aangemeld, maar nog geen terugvoer gekry nie.

“Die rioolwater stroom steeds by die plekke waar ek gaan kyk het, uit,” het mnr. Du Plessis gesê.

Volgens hom is die pompe stukkend en moet dit vervang word.

“Dit is weens nalatigheid en gebrek aan instandhouding dat daar so baie rioolprobleme is.”

Hy glo sowat vyf nuwe pompe op Secunda en Evander is nodig en dit kos sowat R300 000 vir een pomp.

Hy het die gemeenskap aangemoedig om AfriForum te ondersteun en te help om dié rioolprobleme op te los.

Die Ridge Times het die skakelbeampte van Govan Mbeki Munisipaliteit, mnr. Bheki Khubeka, Vrydag, 10 Augustus om kommentaar genader en gevra of die munisipaliteit bewus is van die rioolprobleem en wanneer die munisipaliteit aandag gaan daaraan gaan gee.

Teen druktyd is geen terugvoering van hom ontvang nie.

https://www.facebook.com/echoridgenewspapers/videos/1891697024209315/

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button