Local newsNews

Bethal Jagtersvereniging se voorsitter boer graag vir ander

‘Ek plant baie hektare vir ander boere en dit is lekker as ’n mens vir hulle ’n aanbeveling doen en hul gewasse groei mooi.’

Mnr. Willie Oosthuizen is die afgelope ses jaar die voorsitter van die Bethal Jagtersvereniging en is lief vir diere.

Sy vrou, me. Marita Oosthuizen, het ’n mak rooiborsduif wat soos ’n papegaai op ’n mens se skouer of kop sal sit.

“Haar naam is Duifie en sy het as kleintjie uit die nes geval en toe maak my vrou haar groot,” het mnr. Oosthuizen gesê.

Me. Oosthuizen het ook al twee ringnekduiwe grootgemaak en een kom kuier steeds soms vir hulle en drink water in die huis.

Hulle woon op ’n plot en mnr. Oosthuizen het ook honde en skape en sy vrou het eende en kalkoene.

Hy werk voltyds as verkoopsverteenwoordiger vir ’n onderneming wat kunsmis aan boere verskaf en raad gee.

“Ek het nooit die geld of geleentheid gehad om vir myself te boer nie, nou help ek ander boere,” het mnr. Oosthuizen gesê.

“Ek plant baie hektare vir ander boere en dit is lekker as ’n mens vir hulle ’n aanbeveling doen en hul gewasse groei mooi.”

Mnr. Oosthuizen het van kleins af ’n liefde vir landbou gehad en het op ’n plaas grootgeword.

Hoewel sy pa nooit self gejag het nie, het hy mnr. Oosthuizen saam met vriende laat jag toe hy nog op skool was.

Lees ook: Smit Steyn Malboer van Secunda verskyn Maandagaande op televisie

Hy het na skool en twee jaar basiese opleiding by die weermag vir ’n diploma in landbou gestudeer en daarna dadelik in die landbousektor begin werk.

Die gesin woon al die afgelope 31 jaar op Bethal en mnr. Oosthuizen verkoop bale hooi in sy vrye tyd.

Die jagtersvereniging het ook ’n afdeling vir junior skuts begin omdat mnr. Oosthuizen meen hulle is die toekomstige jagters.

“Ons het begin om kampe vir die juniors aan te bied en dit was vir van hulle hul eerste blootstelling aan ’n vuurwapen. Hulle kon nie uitgepraat raak oor die kamp nie.”

Die jagtersvereniging bied maandeliks ’n skietkompetisie aan.

Mnr. Oosthuizen maak sy eie koeëls omdat hy meen dit skiet meer akkuraat as gekoopte koeëls en is goedkoper as ’n mens baie skiet.

“Dit is ’n wetenskap op sy eie en verg fyn en sensitiewe werk.”

Hy slag ook self die wild wat hy skiet en verwerk dit self.

“Ons jag wat die veld ons bied, soos koedoes, rooibokke, blouwildebeeste, elande of waterbokke.”

Vir meer inligtig oor die jagtersvereniging, skakel mnr. Oosthuizen by 082 493 6689.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button