Local newsNews

Sommige boere ervaar riller-seisoen maar het hoop vir die nuwe seisoen

Elke plantseisoen hou sy eie uitdagings in en alhoewel elke seisoen verskil is sommige van die probleme wat die boere ervaar alreeds voorheen in die verlede getrotseer

Die vernietigende droogte wat die Kaap die afgelope tyd teister, is net weer eens opnuut ’n bewys van hoe afhanklik ons land se boere van reën en die klimaat is.

Elke plantseisoen hou sy eie uitdagings in en hoewel elke seisoen verskil, is sommige van die probleme wat die boere ervaar reeds in die verlede getrotseer.

Ten spyte daarvan dat groot dele van Ermelo se boere baie swaar gekry het as gevolg van ’n uitermatige koue plantseisoen en sekere oeste wat erg skade gely het onder haelbuie, is daar dele wat baie mooi oeste op die lande gehad het.

Hoewel sommige boere in ons omgewing die afgelope seisoen as ’n riller-seisoen beskryf het, het ander dit effens beter ervaar.

Volgens een van die boere in die omgewing was die lande verbasend hard en het hulle in die westelike gedeelte van die Ermelo-omgewing tot en met die Kersseisoen versuipte toestande beleef.

“Dit het die opvolg-bewerking byna onmoonlik gemaak en die vassit van implemente was aan die orde van die dag,” het een van die boere in die omgewing vertel.

Die midsomer-droogte het dié boer na die feestyd onkant gevang en hy het bygevoeg dat die eens versuipte mielies op die lande geen weerstand gehad het teen die droogte wat aangehou het tot in Maart nie.

Hy het bygevoeg dat hulle wel uitsien na die weerseisoen wat voorlê, want na dié seisoen glo hy kan dit slegs beter gaan.

’n Boer in die Amersfoort-omgewing het ons meegedeel dat hulle met tye erge koue beleef het.

Sommige boere in die omgewing het die seisoen as ‘n riller beskryf, maar is opgewonde oor die nuwe seisoen wat voorlê. (Foto: Lion du Plessis)

Die nagevolge daarvan was dat watertoevoere konstant gevries het wat weer daartoe gelei het dat die pype gebars het.

Behalwe vir die reën, het omgewingstemperatuur en grondtemperatuur ook ’n groot invloed op hoe die gewasse ontwikkel en groei.

Ander uitdagings vir boere sluit in die aanhoudende plaasaanvalle en -moorde wat bykans ’n daaglikse kwessie geword het.

Daarmee plaas die onsekerheid oor die huidige grondonteiening sonder vergoeding verdere stremming op die boere in die omgewing.

Die Transvaalse Landbou-unie (TLU) het reeds vroër vanjaar by die openbare verhoor wat in Ermelo plaasgevind het vir die moontlikheid om Artikel 25 van die Grondwet te wysig, genoem dat die landbou-sektor die potensiaal het om armoede en werkloosheid te verminder.

Met die grondonteiening wat tans in die boere se agterkop sluier, word daar in die media ook versprei dat groot graanboere huiwerigheid toon om saad aan te koop vir die komende plantseisoen, omdat dit ’n groot uitgawe vir die boere is.

“Geen plantseisoen sal ooit perfek wees nie, maar ons leer uit die lesse en uitdagings wat aan ons gegee word en pas dit toe wanneer die volgende probleme opduik.” het ’n boer afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button