Local newsNews

Secunda-inwoner oorleef gru-botsing en wil nou weer begin gholf speel

“Ek was ’n roekelose outjie, maar die Here het vir my ’n tweede kans gegee”

SECUNDA – Hy gaan weer gholf speel en hardloop. “Hou my dop!”

Só meen mnr. Martin van Heerden wie se regterbeen en knie op 30 Julie geamputeer is.

“Die amputasie is nie so erg as wat almal dink nie. Dis eintlik ’n verligting ná maande se gesukkel, pyn en frustrasie,” het mnr. Van Heerden vertel.

Dié operasie is eintlik vir hom ’n kleinigheid in vergelyking met wat hy die afgelope jaar deurgemaak het.

Mnr. Van Heerden en ’n vriend, mnr. Isak Leonard, het op 23 September verlede jaar eers gholf op Walker Park Gholfklub gespeel voordat hulle na Pretoria gery het.

Hy kan niks van dié dag onthou nie en nog minder van die ongeluk op die N4-snelweg net buite Hatfield waar hulle met sy bakkie teen ’n brug gebots het.

Dit is wat oorgebly het van die bakkie nadat dit teen ‘n brug vasgery het. (Foto verskaf deur André van Heerden)

Mnr. Van Heerden het agterna gehoor hy is uit die bakkie geslinger en as mne. Leonard nie na hom verneem het nie, sou niemand geweet het om vir hom te gaan soek nie.

Hy is etlike meters verder langs ’n treinspoor gevind.

Mnr. Van Heerden se lyf was gebroke – sy linker enkel was gebreek, sy regter tibia en knie was vergruis, die regter heup en bekkenbeen was gebreek en sy voorarm en skouer en kakebeen is ook beseer.

Hy het eers sowat drie maande later in die hospitaal wakker geword.

Mnr. Van Heerden is na Muelmed gehaas waar hy verskeie dringende operasies moes ondergaan.

Hy is later na Unitas Hospitaal oorgeplaas waar ’n ecmomasjien beskikbaar was.

Dié masjien dreineer bloed, plaas suurstof by en verwyder die koolstofdioksied, verwarm die blood en pomp dit terug deur die liggaam terwyl dit die hart en longe kans gee om te rus en te herstel.

Mnr. Martin van Heerden kort na die ongeluk. (Foto verskaf deur André van Heerden)

Mnr. Van Heerden se linker long het ernstige infeksie opgedoen en hy moes boonop antibiotika kry waarvan gehoorverlies een van die neweeffekte was.

“Ek was basies ook doofstom, want ek kon nie hoor nie en kon ook nie met die pyp in my keel praat nie.”

Mnr. Van Heerden was vir drie maande in die waakeenheid totdat hy op sy eie kon asem haal.

Hy is later vir sowat drie maande in Morehill, Benoni, in die rehabiliteringsentrum opgeneem waar hy als van vooraf moes leer doen – soos self eet en beweeg.

Sy been was in ’n eksterne raam gespalk, maar dit het net meer stremming op sy gebreekte heup geplaas.

Me. Nicky van Heerden besoek haar man in die waakeenheid. (Foto verskaf deur André van Heerden)

Die besluit op amputasie het gekom ná die neuroloog bevind het dat die senuwee in die voet en been ook in die ongeluk beskadig is.

Mnr. Van Heerden het intussen gehoortoestelle gekry en moet nog ’n heupvervanging ondergaan.

Intussen het sy ondernemening, MAD Konstruksie, vir maande stilgestaan.

Mnr. Van Heerden is egter nie ’n man wat graag stilsit nie en het sommer kort nadat hy tuisgekom het, ingespring om sy huis en voertuig meer rolstoelvriendelik te maak.

Hy hoop om binnekort ’n prostese te kry wat hom sal help om sonder die rolstoel te kan beweeg.

Mnr. Martin van Heerden ontvang terapie in die rehabiliteringsentrum in Benoni.

“Ek was ’n roekelose outjie, maar die Here het vir my ’n tweede kans gegee,” het mnr. Van Heerden vertel.

Hy is dankbaar vir sy vrou, Nicky, seuns André en Daniël, en familie en vriende vir hul hulp en ondersteuning.

“Ek gaan lê nie sommer nie. Ek is vas van plan om teen Desember weer op die gholfbaan te wees.”

Mnr. Martin van Heerden se regter been is sowat ’n maand gelede geamputeer. Hier is hy by die huis met Frosty op sy skoot.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button