Bethal-egpaar se seksuele sake duur voort in hof
Die staatsaanklaer, me. Tracy Keen-Horak, het in haar kruisondervraging een van die getuies aangevat omdat hy glo die saak met die beskuldiges asook sy vrou bespreek het. "Jy is uitdruklik deur die hof opdrag gegee om die saak met niemand te bespreek nie, maar ek het twee getuies wat kan getuig dat jy die saak met ander bespreek het," het me. Keen-Horak gesê.
BETHAL – Die egpaar wat op seksuele aanklagtes van hul eie vyf kinders teregstaan, se saak duur steeds voort in die streekhof op Secunda.
Hulle het na bewering onder andere twee van hul kinders (vyf en agt-jaar oud), gedwing om toe te kyk hoe hulle seksueel verkeer.
Die egpaar het op Woensdag, 24 April in die hof verskyn.
Van hul vriende het dié dag getuig.
Die twee getuies wat ingeroep is, het albei gesê dat hulle verskeie jare met die egpaar bevriend was en gereeld daar gekuier het.
Die staatsaanklaer, me. Tracy Keen-Horak, het in haar kruisondervraging een van die getuies aangevat omdat hy glo die saak met die beskuldiges asook sy vrou bespreek het.
“Jy is uitdruklik deur die hof opdrag gegee om die saak met niemand te bespreek nie, maar ek het twee getuies wat kan getuig dat jy die saak met ander bespreek het,” het me. Keen-Horak gesê.
Sy het dit aan die getuie gestel dat sy nie weet hoe die hof enige iets wat hy sê kan glo nie omdat hy die opdragte van die hof verontagsaam het.
Me. Keen-Horak het dit aan die getuie gestel dat die beskuldigde (die vrou) vroeër in die hof getuig het dat sy en haar man en al hulle vriende gedrink het en gereeld dronk was en dat net die kinders regtig nugter was.
Sy het aan die getuie wat gesê het die egpaar en hul vyf kinders was soos enige ander normale gesin, gevra hoe hy weet dat die kinders komberse en kussings gehad het om op te slaap as hy nie in hul kamers of kaste gekyk het nie.
“Jy mislei die hof,” het me. Keen-Horak gesê.
“Het jy by die gesin gebly dat jy kon sien wat gebeur?”
Die getuie het gesê hy het vir twee weke by die gesin gewoon.
Me. Keen-Horak het vir hom gesê hy vertel in die hof wat sy persoonlike opinie en perspektief van die gesin is.
Sy het gesê dat net ‘n paar mense ‘n opinie in die hof kan hê en hulle sluit die prokureurs of staatsaanklaers en die dokter in.
Die getuie het gesê hy ken die beskuldigde (die vrou) as ‘n goeie huisvrou en ma vir haar kinders.
Me. Keen-Horak het aan hom gevra of hy bewus was dat sy in 2005 haar man met vier van die kinders, wat toe onderskeidelik ses, vyf en drie-jaar oud was en die jongste ses maande, vir ‘n ander man gelos het.
“Is dit ‘n goeie ma?” het me. Keen-Horak aan die getuie gevra.
“Jy het getuig oor die egpaar se karakter, maar dit was net jou persepsie, jy weet nie of die kinders warm geslaap het nie, of hulle by hul ouers in die bed geslaap het nie en of hul ouers hulle op onsedelike maniere aangeraak het nie.
“Elke kind is anders en reageer anders op omstandighede. In só ‘n gesin word kinders gereed gemaak om so gewoond aan seksuele dade te raak, dat hulle mettertyd dink dit is normaal.”
Me. Keen-Horak het aan die tweede getuie gesê dat een van die seuntjies gereeld sy bed natgemaak het en homself bevuil het weens die dade wat teen hom gepleeg is.
Sy het ook gesê volgens die huiseienaar by wie die egpaar gehuur het, het die huis soos ‘n varkhok gelyk en sy moes hulle gereeld vra om skoon te maak.
Me. Keen-Horak het haar kruisondervraging afgesluit en die saak is na 24 en 27 Mei uitgestel.
Lees ook:
https://www.citizen.co.za/ridge-times/128974/bethal-egpaar-verskyn-weer-hof-vir-die-molestering-van-hul-vyf-kinder/



