Chris Venter kyk haar aftrede beslis en vierkant in die oë
Op mediese aanbeveling, het sy die terapie van die skryfproses bemeester en ’n fiktiewe karakter, ‘Gesie’, het gestalte gekry.
Me. Chris Venter was tydens aftrede na 50 jaar in die onderwys ietwat voor ‘n kruispad, maar die pen is magtiger as die swaard.
“Ek het swaar afgetree na ‘n daaglikse roetine van vroegopstaan en ‘n lewensafrigter het ‘n koers aangedui,” het sy gesê.
Op mediese aanbeveling, het sy die terapie van die skryfproses bemeester en ‘n fiktiewe karakter, ‘Gesie’, het gestalte gekry, wat drie boeke later haar wedervaringe getrou verwoord.
Dié publikasies is self uitgegee met dié sielsgenoot, wat karaktereienskappe soos ‘n simpatieke luisteraar wat geen kritiek lewer nie, insluit.
Haar studentestudies het by die destydse Goudstad Onderwyskollege begin en ‘n BA-graad is daarna deur Unisa verwerf.
Chris en haar vriende was van die eerste studente wat onderwysopleiding by dié kollege in Johannesburg ontvang het voordat leerkragte eerstehands kennis met die klaskamermilieu gemaak het.
Sy het onderwys gegee in Cocksoord naby Randfontein, Benoni en Springs met Amsterdam wat amptelik haar aankoms op die Hoëveld aangedui het.
“Ek het in die omgewing opgedaag en gesien hoe mooi die streek is.”
Daarna het die hoofpos by Laerskool Platrand gevolg wat ‘n hoogtepunt in haar lewe was, dieselfde portefeulfe by Haas Das Kleuterskool en Quondalwazi Secondary School.
Die ervaringe van ‘n kleuterskoolhoof is in haar eie woorde een van liefde en opoffering.
SmartBrain-opleiding was nog ‘n hoogtepunt wat vir 12 jaar bedryf is.
“My eerste gr. R’e is nou onderwysers,” aldus Chris.
Woordeskatuitbreiding, elementêre wiskunde en kinders leer lees deur middel van klanke, lê haar duidelik na aan die hart.
“Om daagliks te sien hoe kinders vorder, was my grootste sukses.”
Terug by die huis op Standerton, is dié enkelloper ‘n peetma van twee volwasse kinders en het ‘n peetdogter met drie klein peetseuntjies.
“Ek was nooit broeis nie, maar my moederhart word deur hulle geraak.”
As oudste kind het sy na die afterwe van haar ouers besef dat sy die een is wat die gesinsbande heg moet hou.
Die vier susters en ‘n broer kommunikeer oor hul wel en weë en sou sekerlik gehoor het van haar pasafgelope toer na Namibië.
‘n Afstand van 6 000km is afgelê vanaf Pretoria en weer terug vir die 11-dae bustoer waar sy selfs in die Namib-woestyn ‘n kort gediggie vir hul toergids neergepen het.
Haar organisatoriese vaardighede is ook ingespan met die treinritbesprekings vir die onlangse Boer en Brit-dag na Val.
Ledigheid kry nie vatplek aan haar nie en kwiltwerk, brei, skryf en mosaïekwerk tel onder haar stokperdjies, dalk met die luister van ‘n operette in die agtergrond.
Tans doen sy navorsing vir ‘n joernaal oor Laerskool Platrand se ontstaan.
Haar kerk, synde die Gereformeerde Kerk op die dorp, is ook haar familie en wat kinders aanbetref, nou ja:
“Miljoene kinders het deur my hande gegaan.”



