SECUNDA – ‘n Forensiese maatskaplike werker wat in November in die Secunda-streekhof verduidelik het hoekom ‘n tienerseun wat na bewering gemolesteer is, erge gedragsafwyking toon, is op Donderdag, 1 Augustus onder kruisverhoor geneem.
Kapt. Lizelle Sass werk by die polisie in Nelspruit.
Mnr. Chris Prinsloo vir die verdediging, wou by haar weet of dit moontlik kan wees dat die seun die bewerings kon versin het omdat hy ‘n pakslae van sy stiefpa wou vryspring.
Die verhouding tussen die stiefpa en die stiefoupa aan die seun se moederskant, was glo gespanne.
Mnr. Prinsloo wou ook weet of die seun se trauma moontlik veroorsaak kon wees weens ‘n voorval met sy nefie toe hy vyf jaar oud was.
Kapt. Sass het gesê sy kan nie oor die verhouding tussen die stiefpa en stiefoupa getuig nie, omdat sy slegs met die seun gewerk het.
Volgens haar was hy deurentyd konsekwent met sy weergawe van wat met hom gebeur het.
Die saak sloer al etlike jare en die beweerde seksdade wat die stiefoupa na bewering met die seun gepleeg het toe hy sowat ses jaar oud was, het destyds in Secunda begin.
Die seun se ouma aan moederskant en haar man het intussen na Limpopo verhuis en het die seun en sy jonger tweelingsussies ook op daardie stadium saam met die egpaar verhuis.
Die kinders se ma moes weens werksomstandighede nog op Secunda agterbly.
Die seun het toe reeds weens slegte gedrag by die skool probleme opgetel.
Sy ma is later weer getroud en die seun het toe aan sy stiefpa vertel wat met hom gebeur het. Hy was op daardie stadium sowat 11 jaar oud. Hy is nou sowat 15 jaar oud.
Die seun is tans in Boys Town.
Hy is in 2017 amptelik met gedragsversteurings gediagnoseer.
Adv. Tracy Keen-Horak het Donderdag die saak afgesluit.
Mnr. Prinsloo het aangedui dat die verdediging met die volgende verskyning ‘n vertoë sal rig om die saak teen die beskuldigde te laat vaar. Hulle voel daar is nie genoeg bewyse vir ‘n skuldigbevinding nie.
Die saak is vir 26 tot 28 November uitgestel.



