Local newsNews

Rhonel vertel haar storie van hoop by Wêreld BIddag vir Vroue

Me. Van Loggerenberg het haar getuienis gelewer en vertel hoe haar en haar gesin se lewens verander het sewe jaar terug toe haar drie-jarige dogtertjie in hul swembad geval het

SECUNDA – Me. Rhonel van Loggerenberg, motiveringsspreker en leierskapafrigter, het vroue op Vrydag, 6 Maart by die Wêreldbiddag vir Vroue wat by die N.G. Kerk Secunda-Oos-gemeente gehou is, toegespreek.

Me. Van Loggerenberg het haar getuienis gelewer en vertel haar gesin se lewens sewe jaar gelede verander het toe haar drie-jarige dogtertjie in hul swembad geval het.

Sy vind haar identiteit in die Here en is vrou vir haar man, mnr. Julius van Loggerenberg en ma vir Juneldé (10) en Juvan (4).

“My werk is my passie en ek hou daarvan om mense te help om te groei en te ontwikkel,” het me. Van Loggerenberg gesê.

Sy het vertel hoe sy op hoërskool al gesukkel het met depressie en teen die tyd was sy op universiteit was, is bipolêre depressie by haar gediagnoseer.

“Ná my dogtertjie, Juneldé se geboorte, was ek steeds depressief en het angsaanvalle gekry.

“Ek het uiteindelik vir hulp gevra en dokters het gesê ek ly aan angsversteuring en depressie. Ek het soos ‘n mislukking gevoel, want ek het gedink ek sou ten minste een basiese ding, om ‘n mamma te wees, kan regkry.

“Ek het toe gedink die kruis wat ek moet dra was seker my depressie, min het ek toe geweet wat lê nog vir my met my dogtertjie, Juneldé, voor.” Sy het vertel hoe sy rustiger geraak het toe Juneldé twee geword het.

Me. Van Loggerenberg en haar man se lewens het egter op 13 Januarie 2013 onherroepelik verander toe Juneldé in die swembad geval en by die dood omgedraai het.

Die egpaar het met vriende by hul huis gekuier. Me. Van Loggerenberg het aan die etenstafel vir haar man gevra waar hul dogtertjie is.

“Julius het haar in die swembad gesien.

“Ons het haar hospitaal toe gehaas en eers 40 minute nadat ons haar in die swembad gekry het, is ‘n kartklop by haar kry.”

Dokters het nie geglo sy gaan die nag oorleef nie, maar na ses maande in die hospitaal, was die Van Loggerenbergs toegelaat om hul dogtertjie huis toe neem.

“Op die slegste dag van my lewe is ek uiteindelik genees van depressie,” het me. Van Loggerenberg gesê.

Die volgende jaar (2014) was nog ‘n moeilike jaar vir die Van Loggerenbergs toe me. Van Loggerenberg twee gewapende rooftogte ook moes deurmaak.

Die eerste een het in Februarie 2014 gebeur by haar vriendin se huis en die tweede een in Oktober 2014 by haar eie huis.

Voor haar seuntjie, Juvan se geboorte, het sy ‘n miskraam gehad en dit was nog ‘n moeilike tyd in dié gesin se lewens wat hulle moes verwerk.

“Ek het naderhand begin vra hoekom moet dit met my gebeur en ek het begin kwaad word vir die Here. Maar die man van Betesda in Johannes 5 in die Bybel, moes 38 jaar wag om genees te word.

“Ek het gedink ek het ook 38 jaar van hopeloosheid, geïsoleerdheid, die hoekoms, die kwaad wees en rou gehad, maar die man van Betesda moes vir 38 jaar sit en sien hoe word ander genees en hy nie.

“Jesus het een dag vir hom gevra of hy genee wil word.

“Ek het toe besef ek moet ook beluit, Rhonel, wil jy gesond word? Of wil jy in bitterheid vasgevang word.”

Me. Van Loggerenberg het vertel hoe sy en haar man ses jaar gelede nie gedink het hulle sou die finansiële las van Juneldé, wat sedert die ongeluk ‘n kwadrupleeg is, kon dra nie, maar die Here het vir hulle voorsien.

“Ons het R100 000 nodig gehad om vir Juneldé ‘n apparaat te koop om haar te help om met ons te kommunikeer.

“Ek het begin met ‘n geldinsamelingsaksie en die Here het, terwyl ek by die Bybelstudiegroep was, vir my gesê ek moet ophou met die aksie, want Hy gaan vir my ‘n koevertjie gee. Ek het gewonder hoe gaan R100 000 in ‘n koevertjie pas.”

Me. Van Loggerenberg het die geldinsamelingsaksie gestaak en ‘n vriendin van haar se pad het met dié van Amerikaners wat me. Van Loggerenberg se lewensverhaal op die internet gevolg het, gekruis. Hulle het deur die vriendin vir haar ‘n koevertjie met geld in gestuur.

“My vriendin het vir my gesê sy het ‘n koevertjie vir my en toe ek dit oopmaak was daar 100 dollar-note in en dit was op die ou end van die dag meer as R100 000.

“Ons kon toe vir Juneldé ‘n rekenaar en ‘n stoel ook nog koop.

“Ek het besef, die Here is in die kleinste besonderhede van ons elke dag se lewens, ons moet net kies om Hom raak te sien.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button