Jessica Botha woeker in haar plaastuin en by die tuinbouklub
Onder dié jong vrou se voorsitterskap gaan ’n kompetisie teen die einde van die jaar plaasvind waar tuiniers in vier afdeling kan meeding.
Me. Jessica Botha, voorsitter van die tuinbouklub, se stewige regsagtergrond het plek vir ‘n tuisteskepper gemaak.
Dit is moontlik dat die helfte nog nie vertel is nie, maar Jessica is ‘n Hoëvelder, gebore en getoë op Ermelo.
Haar man, Izak wat op ‘n plaas op die Vrede-pad grootgeword het, bedryf ‘n gemengde boerdery.
Die egpaar spog met twee dogtertjies Annefri en Ghitte, wat onderskeidelik by Haas Das Kleuterskool en die Miernes-speelgroepie bedags is.
Die Bothas was albei in Hoërskool Ermelo en Jessica het na skool by Kovsies ‘n B.Com (LLB) verwerf, daarna vir ‘n ruk by ‘n prokureursfirma op Standerton gewerk voordat haar verpligtinge haar noodgedwonge huisvas gemaak het.
“Ek is nou in die seisoen waar ek kinders grootmaak.
“Die oomblik toe ek trou en op die plaas bly, het ‘n begeerte posgevat om ‘n plaastuin te hê.”
Ouma Jessica Uys van Ermelo kan dalk verantwoordelik gehou word dat die groen vingers beslag in Jessica se tuin gekry het.
Haar naamgenoot het nie op haar laat wag nie, raad en kennis mildelik uitgedeel en was byderhand toe die eerste beddings uitgelê is.
Onder dié jong vrou se voorsitterskap gaan ‘n kompetisie teen die einde van die jaar plaasvind waar tuiniers in vier afdelings kan meeding.
Eksterne beoordelaars sal wik en weeg om ‘n tuinhoekie, klein tuintjie, groot tuin en plaastuin te beoordeel met pryse wat op die spel is.
Me. Arina Duvenhage van Boksburg bedien die dorp se klub van raad, terwyl Jessica hoofsaaklik die administrasie behartig.
“Kompos, kompos, kompos,” het Jessica dit oorgedra.
Jessica is ‘n voorstander van pro-organiese werkswyses en kompos moet liefs selfgemaak wees met erdwurms in en geen gif, insekdoders of chemikalieë nie.
Tuinbeddings kan vir die Hoëveldse winter beskerm word met ‘n deklaag van blare, gras, lusern of kompos.
Jessica ruim ook tyd in vir gimnasiumwerk, stiltetyd en aanknoop van nuwe vriendskapsbande.
“‘n Hoogtepunt in my lewe was ongetwyfeld die geboorte van my kinders,” het sy bygevoeg.
Dié voormalige hoofmeisie gebruik die norme en waardes wat sy in haar ouerhuis geleer het, as sentraal nie net tot haar opvoedingstaak nie, maar ook tot haar lewenswyse.
“Daarmee kan ek hopelik ‘n voorbeeld wees en ‘n verskil maak,” het sy mee afgesluit.



