Helpende Hand maak binnekort tweedehandse winkel op Secunda oop
Gemeenskap kan kom soek vir ’n winskopie
SECUNDA – Me. Alta Bezuidenhout maak op 19 Maart amptelik die deure van die nuwe ‘Ons Winkel’, ’n inisiatief van die oraganisasie, Helpende Hand, op Secunda oop.
Me. Bezuidenhout verwys na haar en haar man, mnr. Derick Bezuidenhout, as ‘bargain hunters’ .
Hulle is lief daarvoor om in tweedehandse winkels of pandjieswinkels in ander dorpe rond te loop op soek na meubels en ander items teen billike pryse.
“Ons was onlangs met vakansie op Hermanus en het daar in pandjieswinkels rondgeloop en met ’n bakkievrag goed teruggekom,” het sy vertel.
Sy het besluit om ‘Ons Winkel’ op Secunda oop te maak toe sy navraag gedoen het oor waar ’n ander tweedehandse winkel hul voorraad aankoop en sy toe vir die eerste keer van ‘Ons Winkel’ gehoor het.
Sy het met die eienaar van ‘Ons Winkel’ se tak in eMalahleni (Witbank) gaan praat en gaan kyk hoe haar winkel lyk en besluit om dit op Secunda te probeer.
“Ek wou eintlik ’n aanlyn-winkel, The Poor Woman’s Boutique, begin het, maar toe ek van ‘Ons Winkel’ hoor en hoe hulle werk, het ek gedink dit is ’n beter opsie vir my, want dan kan ek sodoende ook teruggee aan die gemeenskap.”
Me. Bezuidenhout en haar man het beide op Secunda grootgeword en het nog altyd in die omgewing gewoon.
Sy het ná haar matriekjaar by Sasol begin werk en 10 jaar later besluit om ’n koffiewinkel te koop.
Die egpaar het vir sowat twee jaar die Kruik Café by die Kruik Kerk gehad totdat hulle dit in 2016 verkoop het toe hulle na ’n plaas buite Leandra getrek het.
Die gesin het besluit om Secunda te verruil vir ’n rustiger lewe op die plaas buite Leandra.
Hulle het vir sowat twee jaar op die plaas gebly en geboer.
“Ons het met alles geboer en alles probeer – van groentetuine tot skape, beeste, wild en lê-henne.
Die gesin het egter weer dorp toe getrek nadat mnr. Bezuidenhout op die myne begin werk het.
“Dit was lekker op die plaas en ons mis die oop spasie en die vryheid wat ons daar gehad het, maar ek glo ’n mens moet blom waar jy geplant is.”
Me. Bezuidenhout geniet dit om mosaïekwerk en tuinwerk te doen.
Op die plaas het sy groente vanuit haar groentetuin geëet en sy het ook haar eie speserye op die plaas geplant.
As sy nie in die tuin rondkrap of op soek is na die volgende item teen ’n goeie prys nie, speel sy voltyds ma vir die egpaar se twee kinders wat onderskeidelik 12 en 17 jaar oud is.
Me. Bezuidenhou beplan om die ‘Ons Winkel’ ’n moderne voorkoms te gee en sal van meubels tot klere en kombuis toebehore aanhou.
Mense wat items uit hul huis gaan gooi, kan haar gerus skakel by 082 826 5228.
Besoek ‘Ons Winkel’ wat op 19 Maart oorkant Moove Gimnasium in die sentrale sakekern op Secunda gaan open.



