Karen van Merwe van Standerton praat openlik oor outisme
Sowel Karen as ouma Stefanie het na Engels oorgeslaan om aan die Standerton Advertiser ’n idee van dié kindertjies se aanpassingsprobleme in die samelewing te gee. “Autism is not a disability, it’s a different ability.”
Me. Karen van der Merwe, onderwyser by Hoërskool George Hofmeyr, se onderwysopleiding maak haar meer in staat om die behoeftes van ‘n outistiese kind te begryp en aan te spreek.
Karen het aan die Noordwes-Universiteit haar graad verwerf en is sedert Mei 2018 betrokke by die Georgies.
‘n Neuroloog van Pretoria het haar seuntjie, Jan, op 31 Julie verlede jaar met outisme gediagnoseer.
“Ek het van kleinsaf vermoed dat daar iets fout is,” het Karen gesê.
Volgens haar word al hoe meer kinders met dié toestand gediagnoseer. Een uit elke 68 kinders wêreldwyd en Suid-Afrika se statistieke dui een in elke 110 kinders aan.
‘Autism South Africa’ is die sambreelorganisasie wat raad en leiding aan ouers gee en gholfspeler Ernie Els wie se kind daaraan ly, is ook betrokke by “Els for Autism”.
Karen se Jan het begin praat op die ouderdom van twee jaar en daarna opgehou praat en ‘potty training’ kon eers op drie geskied.
Die simptome van outisme word soms met aandagafleibaarheid verwar, maar wat algemeen voorkom is oortjies wat toegedruk word, weerstand teen fisieke kontak, eet van slegs sekere kos en afsondering onder ‘n kombers byvoorbeeld.
“‘n Mens moet baie geduldig wees en jou kind lees,” het Karen bygevoeg.
Klein Jan sal Desembervakansies graag op die sand by die see baljaar, maar met toenemende strandgangers raak dit te besig vir hom.
Outisme het verskillende vlakke en kinders se kommunikasieprobleme en frustrasies kan soms nie in hoofstroomskole genoegsaam aandag geniet.
Sowel Karen as ouma Stefanie het na Engels oorgeslaan om aan die Standerton Advertiser ‘n idee van dié kindertjies se aanpassingsprobleme in die samelewing te gee.
“Autism is not a disability, it’s a different ability.”
Outisme is op die keper beskou ontwikkelingsafwyking en dié kindertjies het individueel sterk en swak eienskappe.
Daar is geen medikasie vir outismelyers nie.
“Jy moet 365 dae van die jaar vir die res van jou lewe daarmee leef,” het Karen ook gesê.
‘n Gesinsbesoek aan ‘n kerk kan ook probleme veroorsaak weens die geraasvlak as musiek gespeel word en die aantal mense.
Na oorstimulasie kan ‘n lyer ‘n ‘meltdown’ kry wat met ‘n angsaanval vergelykbaar is.
Dit is nie ‘n doelbewuste vorm van manipulasie nie, maar bloot te veel sensoriese inligting wat verwerk moet word.
‘n 5km-stapinisiatief vir 4 April waar bewusmaking van outisme sou plaasvind, is uitgestel.
‘Bright Minds Academy’ sal die geld aanwend om die lewe van outismelyers en hulle naasbestaandes te vergemaklik deur aanvaarding, respek en liefde aan te moedig.
Inwoners wat neurodiversiteit wil omarm, kan met Zandile by 072 495 9005 of Malibongwe by 063 787 7719 of Karen by 084 250 1527 in verbinding tree.
Die Van der Merwes se tweejarige dogtertjie Jana, is bloot woelig.
Volgens Karen is ‘n roetine bowenal van uiterste belang en veranderde omstandighede moet deurgegee word.
“Hulle kan ook baie vreugde in jou lewe meebring,” het Karen mee afgesluit.



