Local newsNews

Elize Smith koester goeie herinneringe oor haar skoonheidsalon

“Ek het my kinders grootgemaak en die lief en leed van my familie en die gemeenskap beleef,” het Elize benadruk.

Me. Elize Smith, bekende inwoner, het amptelik afgetree, geen skoonheidsbehandeling sedertdien gedoen nie, maar dit lyk of haar arm gedraai kan word om weer insette by verdienstelike inisiatiewe te lewer.

Sy het haar onderneming in Mei verlede jaar van die hand gesit nadat haar klante oor ‘n tydperk van 34 jaar met waks, gesigmaskers, massering, manikuur, pedikuur, verslanking en ook ‘n sonbed bederf is.

“Ek het my kinders grootgemaak en die lief en leed van my familie en die gemeenskap beleef,” het Elize benadruk.

“Ek het gemengde gevoelens op my laaste dag beleef, waarvan hartseer een was.”

Elize het skouer aan die wiel gesit en was betrokke by verskeie organisasies soos Cansa vir altesaam 10 jaar, die skou vir 35 jaar, die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) en menige persoon wat oor die drumpel van die salon gestap het, kon sommer kaartjies koop vir ‘n geleentheid wat sy óf bemark het, óf voor geld ingesamel en borge gereël het.

Sy dien tans op die siekeboegkomitee van die Kosmos Aftree-oord.

Inwoners kon ook in die verlede die jaar afgesluit het met ‘n bal in die Standerton Stadsaal, om nie te vergeet van die mandjiedanse wat susksesvol gereël is nie.

Tussendeur was sy bedrywig op die vermaaklikheidsvlak met optredes op dorpe waar sy veral by vrouefunksies opgetree het.

Haar sangtalent is moontlik afkomstig van pa Doors Cilliers, wat toe hy jonger was, 16 musiekinstrumente kon bespeel.

Die appel het ook nie ver van die boom geval nie as ‘n mens haar seun, die bekende Pieter Koen, se sangloopbaan volg nie.

Haar dogter me. Juanelize Wendelstadt volg ook in ma se voetspore as volwaardige skoonheidsterapeut.

Elize het op haar dag met die groot name in die Afrikaanse musiekbedryf soos Lance James, Groep 2, Min Shaw en Gé Korsten skouers geskuur.

Nou geniet sy haar vyf kleinkinders, maak tuin, brei, hekel en besoek vriende om nie te vergeet van help met boekhou by ‘n motoronderdelehandelaar op die dorp nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button