Local newsNews

Thys Froneman van Standerton put inspirasie uit die alledaagse

Sy werkswyse vind in tussenposes plaas, eers die verf in die aand, dit agterlaat en dan terugkeer vir verdere kwashale voordat die finale afronding kan geskied.

In die lewendige geselskap van mnr. Thys Froneman, skilder en sakeman van Standerton, moet jy jou storie ken om by te hou.

Hoewel hy met aandagafleibaarheidsindroom donkiejare gelede gediagnoseer is, het dit hom geensins gestuit om sy eie ondernemings in onder meer houtwerk, tuinuitleg en boukonstruksie aan te pak nie.

Skilder en Thys kom egter van kindsbeen af.

Hy het in 2002 die verfkwas begin gebruik met slegs ‘n paar skilderklasse, wat geneem is by me. Miemie Naudé van Vrede, voordat houtskoolsketse tot volwaardige skilderye gelei het.

“Ek kry inspirasie uit alledaagse dinge,” het Thys terloops opgemerk.

“Ek sal verby ‘n plek ry, daaroor tob en dan sal ek dit in die toekoms teken.”

Sy werkswyse vind in tussenposes plaas, eers die verf in die aand, dit agterlaat en dan terugkeer vir verdere kwashale voordat die finale afronding kan geskied.

Thys Froneman se vetplante is nou ’n bron van inspirasie. (Foto verskaf)

“‘n Mens kan nie ‘n skildery afjaag nie,” het hy gesê.

Die onderwerpe vir sy skildery is in stories gesetel.

“Ek wil nie net skilder omdat skilder ‘skilder’ is nie. daar moet ‘n storie wees.”

Thys se entrepreneurskap het nou beslag gevind in ‘n klein vetplantonderneming, waarvan dié plantjies sentraal tot sy jongste skilderye is.

Volgens hom het die kunsmark moontlik ‘n dekade gelede reeds verander met mense se prioriteite van kos, klere en om die kinders op skool te hou.

“Die mark het ‘n groot knou gekry,” het hy bygevoeg.

Thys se werk word by ‘n koffiewinkel op die dorp uitgestal, ‘n galery op Clarence stal van sy skilderye uit en hy beoog om ook gebruik te maak van ‘n oord op Morgenzon.

Sy grys hare is nie ‘n bron van verleentheid of bekommernis nie siende hy op die ouderdom van 22 reeds sout-en-peper was.

Dié kunstenaar se musieksmaak wissel van pop, rock tot die klassieke en ‘n voorkeur is koormusiek.

Moet geensins verbaas wees as hy die musiek laat pols voordat hy stelling agter die esel inneem nie.

Op die tuisfront is eggenoot Anet en seun Janco terdeë bewus daarvan dat hy enigiets eet wat vleis, rys en aartappels in het.

‘n Lewensfilsofie is opgesom met verwysing na die magdom dinge waarmee hy hom bemoei.

“Ek kan nie stilsit nie, want ek is bang ek loop iets mis.

“As ek nie by iets kon uitkom nie, sal ek myself blameer voor ek in die aand gaan slaap,” het Thys mee afgesluit.

Een van Thys Froneman s skilderye. (Foto verskaf)

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button