Local newsNews

Twee vriendinne praat oor hul vegan-leefstyl

Gesonder leefstyl hou baie voordele in

SECUNDA – Me. Tessa Burger en me. Chantelle Martignone het onlangs besluit om geen produkte wat van diere afkomstig is, te gebruik of kos soos vleis en melkprodukte te eet nie.

Dié beste vriendinne wil mense bewus maak van die vegan-leefstyl, want hulle glo min mense verstaan waaroor dit gaan en min mense kies om dié leefstyl te volg.

“Vir my is dit ‘n beginselsaak, dit gaan oor dieremishandeling,” het me. Burger gesê.

“Ek kan nie sien hoe diere ly nie. Ek weet diere word mishandel of nie goed behandel nie voordat hulle geslag word of voordat koeie gemelk word.”

Me. Martignone het vertel van video’s wat sy gesien het waar die koeie se kallers weggeneem word en die koeie se melk wat eintlik vir die kallers behoort te wees, dan aan mense verkoop word.

“Veganisme is ‘n filosofie en ‘n manier van leef, wat so ver as moontlik en prakties, alle vorms van uitbuiting en wreedheid teenoor diere vir die doel van kos, klere of enige ander doelwit, uitsluit.

Die gebruik van diervry-produkte is tot voordeel van alle diere, mense en die omgewing,” het me. Martignone gesê.

“Daar is verskeie maniere om veganisme te verwelkom of te beoefen. Een van dié maniere is om ‘n plantgebaseerde dieët te volg.”

Me. Martignone volg nog ‘n vegetariese leefstyl, maar haar doelwit is om eerder die vegan-leefstyl te volg.

Me. Burger se reis as ‘n vegan het in November begin nadat sy vir sowat vier maande navorsing oor dié leefstyl gedoen en inligting bymekaar gemaak het.

Sy eet geen vleis, eiers of suiwelprodukte nie en gebruik ook nie shampoo of enige skoonheidsprodukte of grimering wat op diere getoets is nie.

Me. Burger eet net groente, vrugte, sojaprodukte en plantprodukte.

Me. Tessa Burger eet ’n vegan-vriendelike burger.

“Hier is plekke op Secunda wat vegan-vriendelike kossoorte verkoop en ek kan selfs ‘n hamburger eet.”

Waar ander mense vleis op hul hamburgers sal eet, word die vegan-burger se ‘vleis’ met sampioene vervang.

Dié twee vriendinne probeer ook meer omgewingsvriendelik leef en probeer om, so ver moontlik, plastiek te vermy en eerder glasprodukte of ander alternatiewe te gebruik.

“Ek gebruik eerder ‘n tandeborsel uit bamboes.”

Sy voel ook ‘n verandering in haar liggaam sedert sy ‘n vegan is.

Waar sy altyd ‘n soettand gehad het en daagliks sjokolade geëet het, raak sy nou glad nie meer lus vir soetgoed nie.

“Ek voel net gesonder en of ek meer energie het,” het me. Burger gesê.

Me. Martignone was nog nooit ‘n groot vleiseter nie.

Sy het egter nou ‘n nuwe perspektief gekry sedert me. Burger haar navorsing met haar gedeel het.

Me. Martignone probeer sover moontlik diereprodukte en kos afkomstig van diere uit haar dieët sny.

“As jy eers sien hoe diere geslag word om vleis te kry, sal jy naar word, dit is siek en het my van vleis en melkprodukte afgesit,” het sy gesê.

Volgens ‘n dokumentêre program wat me. Martignone gekyk het, leef mense wat ‘n vegan-leefstyl volg, langer as mense wat dit nie volg nie.

Sy het twee dokumentêre programme, Earthlings, en Game Changers aanbeveel wat belangstellendes kan kyk om te sien wat me. Martignone en me. Burger oortuig het om die vegan-leefstyl na te streef.

Me. Burger en me. Martignone wil bewusmaking skep oor vegans en belangstellendes wat meer inligting soek, kan hulle skakel.

Hulle wil ook graag resepte met ander mense in die omgewing wat die vegan-leefstyl volg, uitruil.

“Hier is nie baie winkels op Secunda wat vegan-produkte verkoop nie, maar ons ondersteun dié wat dit wel verkoop,” het me. Martignone gesê.

Dié winkels en restaurante sluit in Woolworths, Oregon Spur, Checkers Hyper, Mugg & Bean, Steers, Panarottis en Dis-Chem Apteek.

Dis-Chem Apteek en Clicks verkoop ook vegan-vriendelike kosmetiese produkte en grimering.

“Al maak ek ‘n verskil in net een dier se lewe deur dié leefstyl na te volg, is dit die moeite werd,” het me. Martignone gesê.

Dié twee vriendinne het albei honde en katte as troeteldiere en is baie lief vir diere.

Me. Chantelle Martignone en me. Tessa Burger het besluit om geen diere-produkte meer te gebruik nie en volg nou ’n vegetariese en vegan-leefstyl.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button