VLU-vroue toets hul vernuf by streekkonferensie
Maryna Hartman stap met meeste pryse weg

HOëVELD – VLU-vroue van die Hoëveld-streek het op Donderdag, 5 Maart hul vaardighede tentoongestel by dié streek se konferensie wat op Devon aangebied is.
Dié konferensie het oor twee dae plaasgevind en Secunda VLU-tak het tweede geëindig vir die tak met die meeste punte op ‘n konferensie.
Devon VLU-tak het dié titel verower en altesaam 4 076 punte op die konferensie behaal. Me. Maryna Hartman van Secunda VLU-tak het die toekenning vir die vrou wat die meeste punte op ‘n konferensie behaal het, verower.
Sy het 1 171 punte behaal en verskeie ander toekennings ingepalm.
Sy het toekennings verwerf vir tweede in die streek met haar hekelwerk, eerste in die provinsie en derde in die streek vir haar masjienwerk, eerste in die provinsie vir haar handvlytwerk, eerste in die provinsie vir haar waterverfskets, tweede vir haar blomme in die middelbare afdeling en eerste in die provinsie vir die meeste punte behaal in kompetisies en tweede in die streek.
Me. Patrys Becker is as die Hoëveld se Vrou van die Jaar aangewys en me. Maretha Middel is as die vrou wat die meeste punte op ‘n Mpumalanga VLU-konferensie behaal het, aangewys terwyl me. Hartman tweede geëindig het in dié afdeling.
Me. Middel het ook weggestap met die verdienstelikheidstrofee.
Die Secunda VLU-tak het tweede in die afdeling vir gebak geëindig met hul brosbroodvingers en eerste in die afdeling vir persevering geëindig met hul tamatie- en uie-mengsel.
In die ander afdelings het die Secunda VLU-tak ook uitgeblink en eerste geëindig in die afdeling vir sketse, tweede in die fotografie-afdeling, derde in die provinsiale en streekhandvlytafdelings, eerste in die provinsiale afdeling vir masjienwerk en tweede in die streek vir hul masjienwerk, tweede in die provinsiale en streekafdelings vir hekelwerk, tweede in die streek vir handbreiwerk en derde in die provinsie en derde in die streek vir borduurwerk.
Bethal VLU-tak het tweede in die streek vir borduurwerk geëindig en Kinross VLU-tak het derde in die streek vir masjienwerk geëindig.
Die vroue van die Bethal VLU-tak wat op die konferensie presteer het en toekennings verwerf het, is me. Miemie Roos (tweede in die streek vir haar borduurwerk en eerste in die afdeling vir blomme middelbaar), me. Lynette Posthumus (derde in die blomme-afdeling vir beginners) en me. Nellie Louw (derde in die blomme ope-afdeling).
Me. Magda van Niekerk van die Kinross VLU-tak het verskeie toekennings ingeryg en derde geëindig in die provinsie vir handbreiwerk en tweede in die streek, tweede in die streek vir haar handvlytwerk en weer eens tweede in die streek vir haar masjienwerk. Me. Fiona Viljoen van die Kinross VLU-tak het die blomme-afdeling vir beginners gewen.
Die vroue van die Secunda VLU-tak wat presteer het, is me. Teresa de Wet (eerste in die streek vir haar handvlytwerk en tweede in die ope-afdeling vir blomme), me. Launa Jansen van Vuuren (derde in die fotografie-afdeling), me. Mariana Bowker (eerste in die afdeling vir gehekel), me. Magda Schwab (derde in afdeling vir blomme gevorderd).



