Amanda hou daarvan om mense se emosies op skilderye vas te vang
"Ek hou van die emosie wat in 'n gesigskets, veral die oë, vasgevang kan word."
SECUNDA – Me. Amanda Nel is op haar gelukkigste met ‘n verfkwas of potlood in haar hand.
Sy het in die Vrystaat grootgeword en woon al die afgelope 29 jaar op Secunda.
Haar liefde vir kuns het al op skool begin en sy het haar eerste kunswedstryd gewen toe sy 12 jaar oud was.
“Ek weet nie hoe ek deurgekom het op skool nie, want ek het heeldag gesit en prentjies teken,” het me. Nel vertel.
Sy het op laerskool graag gesigte met potlood geteken en het ook graag gelees.
“Ek het boeke verslind, want dit het my laat reis in ander mense se stories.”
Sy skryf ook graag gedigte en twee van haar gedigte, “Die Bloed in my Are Bots” en “Beggars can’t be Choosers” is al in ‘n digbundel van die ‘Christian Poetry Association’ gepubliseer.
Sy onthou hoe sy as jong kunstenaar met baie selfvertroue uitgegaan het en vir enige iemand wat haar gevra het om ‘n spesifieke skildery te skilder, ja gesê het.
“Maar as ek dan voor die skoon doek gaan staan het met die kwas in my hande, dan het my broek eintlik gebewe en dan het ek die Here gevra om my te help skilder,” het sy gesê.
Haar pa was ook ‘n kunstenaar en sy onthou hoe hy destyds wilde perde op ‘n groot muur geskilder het.
Haar ma het ook geskilder toe sy jonger was en is steeds baie kreatief.

“Sy kan die mooiste hekelwerk doen en as jong vrou was sy ‘n entrepreneur wat altyd iets kreatiefs gemaak het om vir ‘n ekstra inkomste vir ons gesin te verkoop.”
Gesigte is me. Nel se gunsteling-onderwerp om te skilder.
“Ek hou van die emosie wat in ‘n gesigskets, veral die oë, vasgevang kan word.”
Sy hou ook daarvan om sandsteengeboue, herfsbome en veral Afrika-gesigte te skilder.
Sy het baie geleer by mnr. Mike Parsons wat jare op Bethal gewoon het. Hy is so paar jaar gelede dood.
“Hy het een van my gunsteling-skilderye geskilder. ‘n Mens kan die siel en emosie van die ou oom in die skildery sien.”
Me. Nel het vroeërjare graag gehengel en is al as die klubkampioen aangewys.
Sy het as jong mamma haar skilderwerk weer ernstig opgeneem en uit desperaatheid begin skilder vir ekstra geld.
Baie van haar skilderye is al verkoop en sy het ook al ‘n reeks skilderye vir huise en ondernemings geskilder.
Me. Nel het ‘n hart vir gebroke mense, veral vroue wat mishandel word en weeskinders.
In haar vrye tyd geniet sy dit om nuwe staproetes aan te durf, Marlothpark of die Drakensberge te besoek en om tuin te maak.
Sy bestee graag tyd saam met haar drie kinders en een kleinkind en het gesê dit is die beste deel van haar lewe.
Sy geniet dit ook om saam met haar vriendinne, wat almal ouer as sy is, te kuier.
“Ek geniet ou mense se geselskap, ek sal heeldag sit en na al hulle stories luister.
“My oudste vriendin is al in haar 80s.”




