Local newsNews

Marthie van der Walt maak tehuis vir bejaardes oop op Bethal

Vrou benodig nog skenkings vir tehuis

BETHAL – ‘n Droom en ‘n passie is vir me. Marthie van der Walt bewaarheid toe sy uiteindelik ‘n perseel gekry het om ‘n tehuis vir bejaardes oop te maak.

Me. Van der Walt het langer as ses jaar by Residentia Palmoord Ouetehuis gewerk en verlede jaar in Augustus bedank.

Sy het by ‘n kruispad gestaan en nie geweet wat haar volgende stappe sou wees nie, maar sy het vir die Here gesê sy soek nie net enige gewone werk nie.

“Ek wou ‘n werk hê waar ek ‘n verskil kan maak en my droom kan uitleef,” het me. Van der Walt gesê.

Sy het al lankal ‘n droom in haar hart gehad om ‘n huis vir bejaardes oop te maak, maar dit was vir haar moeilik om ‘n stap in geloof te neem en die Here vir ‘n perseel te vertrou.

Sy het egter finaal besluit om dié stap te neem toe bejaardes haar gevra het of sy nie so huis vir hulle wil oopmaak nie.

“Ek het ‘n visioen gekry en net geweet ek moet die plek Goue Heuwel noem,” het me. Van der Walt vertel.

“Ek wil vir die bejaardes ‘n plek skep waar hulle veilig en geborge voel en waar hulle voel hulle kan bly totdat hulle eendag na hul ewige huis gaan.”

Me. Van der Walt begin dié tehuis vir bejaarde vanuit niks.

“Ek het nie kapitaal nie, ek begin dit in geloof.

“Ek moet versorgers betaal asook ‘n kok, maar die Here het vir my gesê dit is nou tyd om op die water te stap.”

Me. Van der Walt het reeds ‘n huurhuis gekry met die meeste meubels in wat nodig is, maar sy kort nog ‘n yskas, kombuisware, ‘n tuimeldroeër, plastiekstoele en ‘n plastiektafel om buite te sit, beddegoed en handdoeke.

Me. Marthie van der Walt sit in die sitkamer van Goue Heuwel Huis vir bejaardes.

“Ek moes eers baie bid oor hierdie saak of ek die huis moet oopmaak of nie en of dit die Here se plan is.

“Dit was vir my die moeilikste ding om te doen, om ‘n stap in geloof te neem en die Here te vertrou dat Hy mense se harte sal aanraak.”

Me. Van der Walt het almal wat reeds donasies of items geskenk het, vir hul ondersteuning bedank en gesê hulle maak dit vir haar moontlik om ‘n veilige hawe vir bejaardes te skep.

“Ek wil hê dit moet ‘n plek wees waar die ou oom of tannie kan bly en as hulle lus is om te help kosmaak, moet hulle vry voel om so te kan doen. As hulle besoekers ontvang, moet hulle vry voel om koffie te maak en met hul besoekers in die sitkamer te kuier.

“Ek wil hê die tannie moet in die oggend met ‘n koppie koffie wakker gemaak word en in die aande voor sy gaan slaap ‘n lekker teetjie kry om te drink.”

Me. Van der Walt het al verskeie kursusse gedoen om bejaardes te versorg, om aktiwiteite aan te bied wat gepas is vir hulle en om ‘n huislike atmosfeer te skep.

“Ek wil elke persoon wat hier bly se behoeftes raaksien en weet wat is hulle hart, wat is hulle bekommernisse en wat maak hulle gelukkig, en vir hulle vra kan ons help om die tannie se hempie aan te trek as sy sukkel.

“Versorging gaan nie net oor die fisieke sy nie, maar ek glo die bejaardes moet ook emosioneel en geestelik versorg word en in daardie aspekte op ‘n goeie plek wees.

“Ek wil hê hulle moet kan sit en aandete eet waar hulle gemaklik voel, by die tafel, in hul kamer of voor die televisie.”

Goue Heuwel Huis vir Bejaardes sal ses mense kan huisves wat twee-twee in ‘n kamer gaan woon en bejaardes sal drie etes daagliks kry, asook koffie, tee, koekies en beskuit tussen-in.

Me. Van der Walt het vyf versorgers wat skofte gaan werk sodat daar 24-uur, sewe dae weekliks iemand aan diens is om na die ou mense om te sien.

Me. Van der Walt se ‘kantoor’ gaan in die huis wees.

“Dit gaan nie eintlik ‘n kantoor wees nie, dit is ‘n tafel in ‘n hoekie in die sitkamer en dit gaan ‘n oopplan wees,” het me. Van der Walt vertel.

Sy beplan ook om gereeld aktiwiteite met inwoners te doen soos hekel, brei of enige iets anders waarvan hulle hou.

“Dit is my werk om die oom of tannie wat voor my sit te ken, seker te maak hulle is gelukkig en voel veilig en geborge.

“As die tannie die dag nie ‘n glimlag op haar gesig het nie, wil ek weet hoekom.

“Ek wil saam met hulle sit en gesels en boeke inkleur en tyd met hulle bestee.

“Eensaamheid en bekommernis is die siekte van ons tyd en ek wil nie hê die bejaardes moet hier ooit eensaam voel nie.”

Inwoners sal maandeliks vir verblyf betaal soortgelyk aan wat ander plekke vra, maar vir die begin sal me. Van der Walt van donasies afhanklik wees.

Belangstellendes wat kruideniersware wil skenk, is welkom.

Me. Van der Walt het belangstellendes of vrywilligers genooi om na die huis te gaan kyk as hulle wil, dit is geleë in Louis Trichardtstraat op Bethal.

Me. Van der Walt is in die proses om die tehuis te registreer.

Die amptelike opening van Goue Heuwel Huis vir Bejaardes is op Saterdag, 4 April en enige iemand is welkom.

Vir meer inligting, skakel me. Van der Walt by 082 340 1200.

Me. Marthie van der Walt buite by Goue Heuwel Huis vir bejaardes.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button