Local newsNews

Seniorburgers gee terug aan gemeenskap op Trichardt

Verskeie gesinne trek voordeel uit dankbaarheidsprojek

SECUNDA – Lede van die Dra Mekaar Seniorburgerklub het op Woensdag, 18 Maart uitgereik na minderbevoorregte mense by Trichardtsfonteindam.

Dié klub se tema vir 2020 is dankbaarheid en uitreiking en lede het besluit om ’n projek te loods en uit te reik na ander.

Hulle het al lankal reeds kospakke begin opmaak en klere en speelgoed vir die inwoners by Trichardtsfonteindam begin bymekaar maak.

’n Paar vrywillgers van Dra Mekaar Seniorburgerklub het Woensdag 22 sakke vol klere, 36 pakke kos en 22 pakke toiletware en skoonmaakmiddels by Trichardtsfonteindam gaan aflewer.

Volgens me. Eileen Bezuidenhout, koördineerder van die projek, sal sowat 58 mense voordeel trek uit dié projek en skenkings.

Die lede het die kospakke wat uit rys, mieliemeel, suiker, koekmeel, koffie, tee, pasta en blikkieskos bestaan, opgemaak.

Me. Bezuidenhout het me. Amanda de Jager van Tiger Brands op Ermelo, me. Cindy Visser van Evander wat skoonmaakmiddels geskenk het en dr. Cornel Oosthuizen vir hul ondersteuning en skenkings bedank.

Die Dra Mekaar Seniorburgerklub se volgende byeenkoms is op Woensdag, 15 April in die saal by die N.G. Kerk Secunda-Oos/Goedehoop-gemeente en belangstellendes is welkom om dié vergadering by te woon.

Chantelle du Preez, gospelsanger, gaan die seniorburgers vermaak met sang en hulle toespreek.

Vir meer inligting, skakel me. Bezuidenhout by 082 467 5307.

Die lede van die Dra Mekaar Seniorburgerklub wat kossakke en ander benodighede aan inwoners van Trichardtsfonteindam oorhandig het en van die inwoners, is (voor) me. Jacqueline Plattell, me. Maggie Henn en me. Maria Venter. In die middel is me. Madelene Bischoff, me. Ella Botha, me. Koekie Keyser en me. Eileen Bezuidenhout. Agter is mnre. Philip Bischoff, Theunis Botha, Calvin Kaspersen en Pieter Bezuidenhout.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button