Geliefde Juanita ‘Chappie’ Gerber (26), laat groot leemte
“Sy laat ’n groot leemte in ons almal se harte, maar ons het berusting in die wete dat die Here haar kom haal het.”
Vriende en familie van me. Juanita Gerber (26) is in rou gedompel, nadat sy op 30 Maart oorlede is.
Me. Gerber is ’n oud-Ermeloër en het aan Hoërskool Ermelo gematrikuleer.
Ná skool het sy na Gauteng verhuis, waar sy tot voor haar dood in Sandton woonagtig was.
Volgens een van haar vriendinne het sy probleme met haar hart gehad en is op 17 Maart geopereer.
Hoewel die operasie as sukses beskou was en sy goed herstel het, het daar ’n bloedklont deur haar brein beweeg en bloeding op die brein veroorsaak.
Sy was op gevorderde lewensondersteuningstoerusting geplaas, waarna die belsuit geneem is om die masjiene af te skakel.
Me. Gerber was deur haar vriende geken as ‘Chappie’ en was iemand wat altyd uit haar pad sou gaan om hul gelukkig te sien.
Sy het op 22 Januarie haar 26ste verjaarsdag gevier.
Mnr. Neil Burger, een van haar vriende het aan die Hoëvelder vertel dat sy ’n avontuurlustige mens was met ’n hart van goud.
Hy het gesê: “As sy jou lief gehad het, was dit onvoorwaardelik.”
Me. Sharron Hill, vriendin, het vertel dat sy haar altyd sal onthou as iemand wat almal om haar wou laat lag en gelukkig sien.
“Sy laat ’n groot leemte in ons almal se harte, maar ons het berusting in die wete dat die Here haar kom haal het.”




