Vaalrivier-tak van VLU eindig derde in streekkompetisie
Vaalrivier-tak het algeheel derde in die streek se kompetisies geëindig.
Die Vroue Landbou-unie (VLU) se Hoëveldstreek het in Maart, op ’n plaas van mnr. Derek en me. Gertz Kuun in die Balfour-distrik, ’n konferensie gehou.
Altesaam agt takke was teenwoordig by die 25ste geleentheid van sy soort.
Ds. Ettienne Schoeman het die VLU-tema van die jaar, ‘Vrou, ’n mentor vir ander’ toegelig deur te sê inligting moet ingewin en oorgedra word.
Die president van die VLU in Mpumalanga, me. Cindy Coetzee, het ’n sojaboonprojek bekendgestel, wat 19 en 20 Julie op Middelburg plaasvind.
“Enigeen is welkom om in die ses afdelings mee te ding,” het me. Coetzee gesê.
Die president van SAVLU, me. Tharina Rossel, het 40-jaar-lidmaatskapsertifikaat aan me. Gerda Büter, voorsitter van die Vaalrivier-tak, oorhandig.
Me. Büter het in 1980 op Kestell by die VLU aangesluit, daarvandaan is haar man na Hennenman verplaas, waar sy vir 21 jaar deel van hulle VLU was.
Haar man is in 2001 na Standerton verplaas en sy het haar gewig as lid by Mpumalanga ingegooi.
Vaalrivier-tak het algeheel derde in die streek se kompetisies geëindig, met die Devon-tak wat eerste was, gevolg deur die Secunda-tak.
Me. Coetzee het ook ’n sertifikaat aan me. Büter oorhandig.
Vaalrivier-tak se vroue wat die konferensie bygewoon het, is mee. Gerbrecht Schabort, Maatjie Koch, Gerda Büter en Ria Brink.
“Die konferensie was leersaam,” het me. Büter gesê.
Dié tak en die Kaalspruit-tak van Standerton sal die Hoëveldstreek se konferensie volgende jaar, op 18 Februarie, by ’n gastehuis op die dorp aanbied.




