Solidariteit hou gesamentlike Helpmekaar-dag
Die doel van dié dag is om ’n groot helpmekaarpoging te loods deur die krag van die gemeenskap in te span om sodoende mense wat in maatskaplike nood is, te help.

HOëVELD – Die Solidariteit Beweging hou vandag (7 April) ’n Helpmekaar-dag aanlyn.
Die doel van dié dag is om ’n groot helpmekaarpoging te loods deur die krag van die gemeenskap in te span om sodoende mense wat in maatskaplike nood is, te help.
Solidariteit wil met dié aksie ook ondernemings ondersteun en kinders help sodat hulle steeds kan skoolgaan gedurende die 21 dae van inperking.
Die Helpmekaar-dag is ten bate van Solidariteit Beweging se kinderfonds.
Mnr. Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het gesê die beweging is daarop gegrond om ’n helpmekaar-beweging te wees en hy het gemeenskappe gemaan om nou, midde-in die koronakrisis, saam te staan.
“Dit is die begin van ’n helpmekaarpoging,” het mnr. Buys gesê.
“In die tye wat voorlê, gaan ons mekaar moet help en die beweging sal al sy instellings inspan om dit te vermag.”
Volgens mnr. Hannes Noëth, uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand, is die maatskaplike nood wat weens die koronavirus ontstaan het, reeds yslik en moet gemeenskappe nou saamstaan om die krisis die hoof te bied.
Volgens hom word die organisasie oorval deur versoeke en hulle help reeds duisende kleuters, gesinne en bejaardes om daagliks kos en ander hulp te ontvang.
Die organisasie het net in Maart, reeds R753 739 aan noodprojekte bestee, en daarom is die versterking van die krisisfonds noodsaaklik.
Mnr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit meen die krisis nog nie op sy kruin nie.
Intussen het 53 000 leerders reeds op die Skoleondersteuningsentrum se Wolkskool geregistreer om aanlyn te kan voortgaan met hul onderrig.
“Die staat gaan ons nie deur die krisis dra nie, ons gaan mekaar in hierdie tyd moet dra,” het mnr. Hermann gesê.
“Hoewel ons almal onseker is, moet ons juis daarom mekaar help.
“Dis tyd dat ons moet saamdra en saamwerk, want ons kan nie toelaat dat weerloses en kinders in hierdie tyd agtergelaat word nie.”
Met dié Helpmekaar-dag, doen Solidariteit ook ’n beroep op die gemeenskap om klein- en mediumsakeondernemings te help.
Mnr. Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê die beste hulp aan sakeondernemings lê in die koopkrag van verbruikers.
Volgens hom het duisende sakeondernemings reeds by AfriForum se sakenetwerk by www.afriforumnetwerk.co.za geregistreer.
Hy het die bestuurders en eienaars van ondernemings aangeraai om by die netwerk te registreer sodat mense aangemoedig kan word om by hulle te koop.
Om tot die krisisfonds by te dra, besoek https://corona.org.za/donasie/ en om te registreer vir die AfriForum-sakenetwerk, besoek https://www.afriforumnetwerk.co.za/
- Notice: Coronavirus reporting at Caxton Local Media aims to combat fake news
Dear reader,
“As your local news provider, we have the duty of keeping you factually informed on Covid-19 developments. As you may have noticed, mis- and disinformation (also known as “fake news”) is circulating online. Caxton Local Media is determined to filter through the masses of information doing the rounds and to separate truth from untruth in order to keep you adequately informed. Local newsrooms follow a strict pre-publication fact-checking protocol. A national task team has been established to assist in bringing you credible news reports on Covid-19,” said Ms Helene Eloff, Legal Adviser for Caxton.
Readers with any comments or queries may contact National Group Editor Irma Green (irma@caxton.co.za) or Legal Adviser Helene Eloff (helene@caxton.co.za).



