AfriForum en ander Secunda-groepe reik uit na behoeftiges
Mnr. Du Plessis het enige iemand wat 'n behoefte aan kos het, genooi om die vraelys in te vul en terug te stuur na die adres op die vraelys.

Die organisasie, AfriForum, het sedert die inperkingstyd begin het, na verskeie gesinne in nood op Secunda en die omgewing uitgereik.
Volgens mnr. Jan du Plessis, voorsitter van AfriForum se Secunda-tak, ondersteun hulle 175 gesinne asook inwoners by Davieshof, House of Mercy tehuis en Janelle Huis.
“Davieshof se inwoners en die mense wat by Trichardtsfonteindam woon, is tans goed versorg,” het mnr. Du Plessis gesê.
“So goed dat hulle binnekort groter koskaste sal nodig hê.”
Volgens mnr. Du Plessis is daar verskeie groepe, ondernemings, organisasies en individue wat tot hulpverlening bydra.
“Daar is niemand wat uitgesonder kan word nie omdat elkeen gee volgens hulle vermoë.
“Die aanvraag na behoefte groei daagliks.”
AfriForum het ‘n vraelys van Solidariteit Helpende Hand aangeneem as ‘n standaard vraelys.
Mnr. Du Plessis het enige iemand wat ‘n behoefte aan kos het, genooi om die vraelys in te vul en terug te stuur na die adres op die vraelys.
Die persoon word dan op die databasis geplaas en die groep wat kan voorsien volgens hul kapasiteit, sal van die databasis af werk en voorsien.
“Ek het groot begrip vir jou omstandighede wat tans ‘n realiteit vir so baie Suid-Afrikaners is.
” Ek kan ongelukkig nie in hierdie stadium enige hulp waarborg nie en om Solidariteit Helpende Hand in staat te stel om moontlike hulp te mobiliseer en/of verwysing na hulpbronne in u omgewing te fasiliteer, word u versoek om volgende inligting te verskaf.”
Dié inligting sluit in:
• Naam/Name en Identiteitsnommers van persoon wat hulp benodig
• Woonbuurt/dorp/stad
• Telefoonnommer
• E-posadres
• Ouderdomme van persone
• Beskrywing van die probleem
• Beskrywing van die behoefte (met ander woorde waarmee hulp benodig word)
• Was u voorheen bygestaan deur ‘n Helpende Hand-tak of u kerk of maatskaplike dienstekantoor
• Is u ‘n Helpende Hand/Solidariteit/AfriForum-lid/ondersteuner
Mnr. Du Plessis het gesê die deurgee van hierdie inligting is nie ’n waarborg vir hulp nie, maar wel die beginpunt van enige hulpoorweging.
Hy het inwoners wat hulp nodig het en reeds ‘n toelaag van Sassa ontvang, aangeraai om ‘n e-pos te stuur na grantenquiries@sassa.gov.za te stuur en vir kospakkies aan te vra.
Inwoners wat die vraelys ingevul het, kan dit per WhatsApp boodskap stuur na 079 488 7608.
“Ons plaas jou dan op die databasis. Al die groepe op Secunda werk nou saam.
“So as jy by groep A gekry het weet almal jy het gekry.
“Sou jy by meer as 1 groep vat, word jy summier van die databasis afgehaal,” het mnr. Du Plessis gesê.
Hy het al die bydraers en donateurs vir hul ondersteuning bedank wat gehelp het om die gemeenskap in nood te voorsien in hul behoeftes.
Mnr. Du Plessis het verskeie vrae gekry van mense wat uit hul woonplek gesit word tydens die pandemie.
“Ek het terugvoer gekry van ‘n navraag wat ek aan ons regsafdeling gerig het omtrent die kwessie. Verskeie mense is gedreig om uitgeskop te word weens geen werk, geen betaling.
“‘n Huurkontrak bestaan uit twee partye, die huurder en die verhuurder, wat beide verantwoordelikhede het waaraan daar voldoen moet word ten einde die kontrak in stand te hou.
“Dié verantwoordelikhede sluit byvoorbeeld in die verhuurder se verantwoordelikheid om die perseel aan die huurder beskikbaar te stel en die huurder se verantwoordelikheid om op die ooreengekome tyd die korrekte bedrag huur te betaal.
“Indien die terme van die kontrak nie nagekom word nie, kan die kontrak gekanselleer word, en indien die huurder dan nie die perseel verlaat binne ‘n redelik tydperk nie, kan die verhuurder stappe neem om die huurder uit te sit deur middel van ‘n aansoek in die hof.
“Die aansoek moet dan op die huurder beteken word, waarna die huurder die geleentheid gegun sal word om daarop te antwoord.
“Die hof sal dan besluit of die uitsettingsbevel toegestaan moet word of nie.
“Indien die hof dit wel toestaan, sal die bevel op die huurder beteken word, en indien die huurder nie reageer nie, kan die balju opdrag gegee word om die bevel uit te voer.
“Indien die roete nie gevolg word nie, en die verhuurder die huurder eensydig uitsit of laat uitsit sonder tussenkoms van die hof of balju, is die huurder van sy/haar besit ontneem, sonder tussenkoms van dit hof, en kan die huurder dan ‘n aansoek bring om weer in besit van die eiendom geplaas te word.
“Dié aansoek staan bekend as ‘n mandament van spolie.
“Dit is ‘n aansoek wat so gou moontlik op ‘n dringende basis gebring moet word.
“Die verhuurder, indien die mandament-bevel toegestaan word, kan ook verplig word om die koste van die aansoek te betaal.”
Volgens mnr. Du Plessis mag uitsettings nie in dié tyd gedoen word nie.
Hy het gesê hulle het nie tans die bronne of mannekrag beskikbaar om inwoners in dié verband by te staan nie.





