Helpende Hand konsulteer oor ‘magsbeheer’ van kos
Mnr. Hannes Noëth, uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand, het gesê volgens die nuutste Covid-19-regulasies in die land, is noodlenigingsaktiwiteite toelaatbaar en is daar geen beletsel wat Helpende Hand verhinder om kos te versprei nie, omdat dié instansie die nodige verspreidingspermitte in plek het, asook om kos van skenkers te ontvang vir doeleindes van verspreiding.
Die welsynsorganisasie, Solidariteit Helpende Hand, het met hul regspan gekonsulteer oor verdere vereistes vanaf staatsinstellings oor die uitdeel van kos.
Helpende Hand is van mening dat die verdere vereistes buiten die bestaande Covid- 19-regulasies op onrusbarende pogings dui om kosverspreiding te sentraliseer en te beheer in plaas daarvan om gemagtigde instansies die ruimte te gee om, binne perke van die bestaande regulasies, kos vinnig en effektief gedurende dié krisistydperk aan hulpbehoewendes te voorsien.
Mnr. Hannes Noëth, uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand, het gesê volgens die nuutste Covid-19-regulasies in die land, is noodlenigingsaktiwiteite toelaatbaar en is daar geen beletsel wat Helpende Hand verhinder om kos te versprei nie, omdat dié instansie die nodige verspreidingspermitte in plek het, asook om kos van skenkers te ontvang vir doeleindes van verspreiding.
“Indien enigiemand Helpende Hand verhinder om noodlenigingsaktiwiteite uit te voer, tree die betrokke persoon teenstrydig met die wet op,” het mnr. Noëth gesê.
“Solidariteit Helpende Hand bevestig weer en beklemtoon dat organisasies toegelaat moet word om ongehinderd noodlenigingsaktiwiteite te verrig.
“Enige ander organisasie wat noodlenigingsaktiwiteite lewer en die nodige permitte het, kan met Helpende Hand se regspan kontak maak as hulle verhinder word om hul werk te doen,” het mnr. Noëth gesê.
Stuur ’n e-pos aan Helpende Hand se regspan na diens@helpendehand.co.za.
Helpende Hand het Sondag gewaarsku dat regsaksie dreig as kosverspreiding deur die regering of staatsinstellings gesentraliseer word en het dadelik sy regspan opdrag gegee om te begin voorberei vir ’n hofgeding, sou die regering of enige staatsinstelling voortgaan met stappe in dié verband.
Helpende Hand soek duidelikheid van die verskillende staatsinstellings ter sprake oor hierdie vereistes vervat in mediaverklaring en kennisgewings wat deur munisipaliteite uitgereik is.