Local newsNews

Leon Strydom neem leisels oor as hoërskool-hoof by Curro Secunda

Nuwe hoof wil belê in elke kind se lewe.

Leon Strydom het op 1 April die leisels as nuwe hoof van Curro Secunda hoërskool oorgeneem en hy beplan om dié skool se suksesvolle produk verder uit te brei.

Strydom het besef hy is geroep as onderwyser toe hy in sy jonger dae in China Engels gegee het.

“My ouma het nog altyd gesê ek gaan ’n prokureur of onderwyser word,” het Strydom vertel.

Hy het jare terug begin studeer om ’n prokureur te word, maar moes deeltyds studeer en voltyds werk en het net sy eerste jaar voltooi.

Hy het op Bethal en Secunda grootgeword en gematrikuleer en het ná skool na Pretoria verhuis waar hy as kelner en later as bestuurder van verskeie restaurante gewerk het.

Strydom het later na Secunda verhuis en as bestuurder by Bosveld Lapa gewerk. Sy plan was om sy LLB-graad te voltooi.

Dit was egter nog altyd sy droom om oorsee te gaan werk en toer, maar hy en ’n vriend kon nie die R20 000 wat Suid-Afrikaners destyds in hul bankrekening moes hê as hulle in Engeland wou gaan werk het, bymekaar maak nie.


LEES OOK: Cops in alleged murder-suicide in Standerton


Hy het dus nie twee keer gedink toe dieselfde vriend hom een dag bel en sê hy is reeds in China en Strydom kan ook soontoe gaan en daar gaan werk.

“Dit was ’n interessante en ook ’n moeilike twee jaar. Die skool waar ek gewerk het in China was in die industriële gebied geleë en daar was geen ander Suid-Afrikaners of mense met wie ek regtig kon vriende maak nie,” het Strydom vertel.

Strydom het later by ’n kleuterskool wat meer in die woongebied geleë was, gewerk en daar baie mense van verskillende lande ontmoet.

Hy het na twee jaar China vir Suid-Afrika verruil omdat hy sy land en sy mense gemis het.

“Ek het toe besef ek het die onderwys eintlik baie geniet en het by Laerskool Goedehoop begin werk as student onderwyser.”

Strydom het ná agt jaar Goedehoop verruil vir Hoërskool Oosterland waar hy vir vier jaar gewerk het.

Hy wou egter nog altyd by ’n privaatskool werk en het nie gehuiwer om tydens die Covid-19-pandemie by Curro Secunda te begin as hoof van sport nie.

Dit was ook ’n moeilike tydperk want al die sportgeleenthede was gekanseleer weens die pandemie, maar Strydom het vasgebyt by Curro en geografie en geskiedenis begin gee, wat nie voorheen deel was as een van Curro se vakke nie.

Sy visie en doelwit as die nuwe hoof van Curro Secunda hoërskool is om ’n positiewe bydrae tot elke kind se lewe te maak en deel te wees van die gemeenskap.

“Hoewel ons ’n privaatskool is, is ons ook deel van die gemeenskap.”

Strydom glo alle onderwysers het dieselfde begeerte in die lewe – om kindgerig te wees en kinders te help wat baie kere in ’n bose wêreld moet oorleef.

“Ons moet ons kinders beskerm en hoop bring in ’n negatiewe wêreld.”

In sy vrye tyd, bestee Strydom graag tyd saam met sy vrou, Nadine en hul vyfjarige seuntjie. Hy geniet dit ook om modelmotors te versamel asook ‘Masters of the Universe’-speelgoed.

Hy het ook vanjaar weer begin oefen en om aan ‘trial runs’ deel te neem. Hy het al twee keer aan die Two Oceans Marathon deelgeneem en geniet dit om vis te vang en in die natuur te wees.

Related Articles

 
Back to top button