Oorstelpte Whitey Whiteman van Standerton ontvang kunsbeen
Whitey Whiteman moes haar onafhanklikheid prysgee om as individu te funksioneer, met gewone dagtake soos skottelgoedwas en kosmaak wat uitdagings inhou.
Whitey Whiteman van Standerton was oorstelp toe sy gehoor het ’n nuwe kunsbeen is vir haar gevind.
Sy was op die waglys by Standerton Hospitaal en het die hoop uitgespreek dat dit hopelik teen die einde van die jaar sal geskied.
’n Weldoener van Richardsbaai, Louis Fourie, het haar dilemma op Facebook raakgelees.
Ferreira het met die Standerton Advertiser in verbinding getree en kort voor lank is die kunsbeen, met ’n skoen aan, by die kantore van die koerant afgelewer.

Fourie het ook ’n tweede skoen saamgestuur. Dié kunsbeen is deur sy skoonma voor haar afsterwe gebruik.
Whitey was van voorneme om op 3 Mei haar fisioterapeut op Ermelo te raadpleeg of die grootte van die been geskik vir haar doeleindes is.
Haar regtervoet is verlede jaar in die Kersseisoen geamputeer. Whitey was eers Oujaarsdag uit Standerton Hospitaal ontslaan.
Die swelling aan haar linkervoet, wat haar herinner aan hoe die amputasie begin het, is ’n bron van groot kommer.

Sy het die amputasie oorleef, maar wil nie weer deur so ’n prosedure gaan nie.
Whitey is etlike jare gelede as diabeet gediagnoseer en sorg vir haarself met die inspuiting, pille en maandelikse besoek aan aan die fisioterapeut.
Haar ongeskiktheidspensioen en die ouderdomspensioen van ’n bejaarde, wat sy versorg in Meyerville, is haar enigste bron van inkomste.
Sy het haar plek in die samelewing volgestaan met ’n wye verskeindenheid loopbaanrigtings wat wissel van ’n hoenderfabriekspos, hyskraandrywer in Vanderbijlpark, toesighouer vir Eskom op Volksrust vir etlike jare en versorger van wyle tannie Susan du Plooy vir vier jaar.
LEES OOK: Promises of a home for ill twins from eMzinoni remain empty
Vir Whitey is die ‘phantom’-pyne iets wat verwerk moet word.
“’n Brein sukkel om amputasie te verwerk,” het sy gesê.
Whitey moes haar onafhanklikheid prysgee om as individu te funksioneer, met gewone dagtake soos skottelgoedwas en kosmaak wat uitdagings inhou.
“Dit is en bly ’n geweldige aanpassing,” het sy bygevoeg.
Depressie is ook ’n wesenlike veranderlike en sy het nie geskroom om met haar stryd teen die toestand te praat nie.
“Ek wil nie vir die res van my lewe met krukke loop of in ’n rolstoel vasgekluister wees nie.”
Whitey het op 3 Mei haar kunsbeen ontvang en was aangedaan.
“Prys die Here,” het sy gesê.
“Dit is ’n Krismispresent.”
Sy het die kontakbesonderhede van Louis Fourie gevra om hom te bedank.






