Local newsNewsStreeknuus

Delmas VLU woeker met breinaalde en wol

Ferreira het een van haar eie skeppings, ’n tjalie, saamgebring en die VLU-lede geïnspireer met ’n verskeidenheid steke en kleure.

Breinaalde, kabel- en sirkelnaalde en wol te kies en te keur was deel van die Vroue Landbou-Unie Delmas-tak se kuier op 14 Mei in die saal van die Hervormede Kerk op Delmas.

’n Spesiale gas van Bronkhorstspruit, Sally Ferreira, het besoek aflê. Ferreira is passievol oor haar breiwerk en veral ‘crazy patchwork’.

Volgens Ferreira, is sy een van sewe kinders en hul ma moes noodgedwonge die handvol besig hou. Leer brei en hekel was die antwoord.

Ferreira het so passievol geraak dat sy later by ’n kreatiewe breigilde aangesluit het. Tussen die 25 lede was daar talent in die kuns van spin, weef en hier het Ferreira geleer van kleur en tekstuur.


Sally Ferreira met haar ‘crazty patchwork’ tjalie.

Die gilde het tweejaarliks ’n uitstalling gehou en elke deelnemer moes minstens een skepping van hul eie uitstal.

“Weens moderne tegnologie en sosiale media het die groep egter mettertyd ontbind en het baie van hierdie kreatiwiteit verlore gegaan, maar met éie kreatiwiteit kon haar ‘crazy patch-breiwerk’ vlerke kry,” het Ferreira laat hoor.

Ferreira het een van haar eie skeppings, ’n tjalie, saamgebring en die VLU-lede geïnspireer met ’n verskeidenheid steke en kleure.

Sy het gewys hoe om los draadjies so weg te werk sodat dit nie sigbaar is of uitrafel nie. Verder was die mooi effek van aweregs, monochroom, aksentkleure, kabels, dik en dun wol en vele meer met die vroue gedeel.

“Sally se rits wenke en interessanthede het die oggend sommer gou laat verbygaan,” het Magriet Swart, skakelbeampte van die Delmas VLU-tak laat hoor.

“Daar was darem ook tyd om die innerlike te vul met ’n heerlike verskeidenheid toebroodjies en lekker koffie en tee.

“Ons wil vir Jané Oosterhuis bedank vir die reëlings rondom dié interessante en leersame oggend,” het Swart bygevoeg.

Na afloop van die oggend se kreatiewe saamkuier het Oosterhuis ’n blyk van waardering aan Ferreira oorhandig.

Die Delmas-tak nooi weer belangstellende vroue bo die ouderdom van 18 jaar om te kom kuier en ’n oggend saam te geniet.

Skakel die voorsitter Marié Terblanché by 083 968 2203, of gaan loer in op die VLU Delmastak se Facebookblad.




LEES OOK: Water concerns in the Bronkhorstspruit area

LEES OOK: Group does more cleaning in Bronkhorstspruit

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button