Vriende en familie groet Zander Geldenhuys op Secunda
Zander Geldenhuys laat groot leemte in Secunda en Bethal-gemeenskap.
Zander Geldenhuys (35) wat op 6 Julie op die N17 dood is in ’n ongeluk, se familie, sal hom as ’n dinamiese en gedrewe mens onthou.
Sy roudiens wat op 13 Julie by die Kruik Kerk plaasgevind het, was ’n groot diens met baie motorfietsryers wat dit bygewoon het.
Geldenhuys het al die jare op verskeie myne in die omgewing gewerk en was vir ’n maand voordat hy dood is, die mede-eienaar van die kuierplek, Buddys, op Bethal saam met Sheldon Brierly.
“Zander se woord was sy woord; as hy sy kop op iets gesit het, het dit gebeur,” het Geldenhuys se broer, Ruan Geldenhuys gesê.
“Hy was ’n fantastiese broer en ’n fantastiese mens.”
Sy meisie van die afgelope drie jaar, Chantel Heyneke het gesê hy was die wonderlikste pa vir sy twee dogtertjies, wat onderskeidelik vier en nege jaar oud is.
“Ons kan nog ’n duisend stories van hom vertel,” het Heyneke gesê.
“Hy was baie impulsief en het sy lewe voluit geleef. Hy wou nog ’n vliegtuig koop en vir sy vlieglisensie gaan.”
Sy eksvrou en ma van hulle twee dogtertjies, Lindi Bartfai, het gesê hy het ’n baie noue band met sy twee dogtertjies gehad en was hulle held.
“Hy het hulle altyd sy twee blommetjies genoem,” het Bartfai gesê.
“Hulle albei is eintlik twee wonderwerke, want dokters het destyds gesê ons sou nooit kon kinders kry nie.”
Een van sy beste vriende, Smit Steyn, het hom as ’n man van vele talente beskryf en gesê hy het aan gemengde gevegskuns deelgeneem en gehou van 4×4 ry, die buitelewe en avontuur.
Geldenhuys laat sy ouers, Gideon en Millicent Geldenhuys, twee broers en ’n suster na, asook sy twee dogtertjies, meisie en baie vriende en geliefdes.
Die familie het almal bedank wat hulle in dié tyd ondersteun het, boodskappe gestuur het en finansieel bygedra het, asook die kerk waar die diens plaasgevind het.
LEES OOK: Jong pa sterf in ongeluk naby Trichardt
LEES OOK: WATCH: Motorist takes off with unpaid fuel in Standerton