Pottebakker van Secunda ontgun haar talente
Vrou leer kleintjies hoe om met klei te werk.
Alice Neethling het haar talent om pottebakkery te doen, eers later in haar lewe ontdek. Sy het op Brakpan grootgeword en nadat sy getroud is, na Secunda verhuis.
“Ek het eers glad nie in pottebakkery belanggestel nie, maar ek het as tuisbly-mamma vasgedruk gevoel in die huis en wou iets doen om uit die huis te kom,” het Neethling vertel.
Sy het eers vir ’n vriendin gewerk wat pottebakkery-klasse vir kleuters tussen die ouderdomme van drie en sewe jaar oud aangebied het en later dié franshise-onderneming gekoop.
Neethling gee al vir 18 jaar pottebakkery klasse vir kinders en het gesê sy het nooit gedink sy sou dit so baie geniet om met kinders te werk nie.
Sy was nog altyd kunssinnig en het al verskeie kunsklasse, wat teken met houtskool en potlood en verf met waterverf insluit, bygewoon.
LEES OOK: AfriForum Delmas Valke Buurtwag gekroon as tweede beste in Noordstreek
Neethling bied by verskeie laerskole en kleuterskole op Secunda die pottebakkery-klasse aan en neem die klei skool toe, waar die kleuters hul kunswerke vorm waarna sy dit huis toe neem, bak in ’n spesiale oond en dan vir die volgende klas dit terugneem skool toe sodat hulle hul kunswerke kan verf.
Die kinders het selfs al legkaarte, blomme, voëltjies en bakkies vanuit klei gemaak. Dié klasse help met kinders se fyn motoriese vaardighede asook hulle hand-oog koördinasie.
In haar vrye tyd geniet Neethling dit om steeds kunsklasse te loop wanneer sy die kans kry en sy het vroeër jare perd gery en al ’n tandem-valskermsprong gedoen.
Sy ondersteun ook haar man van die afgelope 36 jaar, Hendrik Neethling, met sy stokperdjie om wedvlugduiwe te vlieg vir Eiber & Neethling-hokke of sy bestee tyd met haar kinders en kleinkinders.



