Oud Sundra AGS-pastoor, Philip Fourie, te ruste gelê
By die AGS-kerk op Sundra het die geliefde pastoor sowat 23 jaar in die amp gedien.
Philip Fourie (78), oud-pastoor van die AGS Kerk op Sundra, het op 19 September sy lewensirkel voltooi.
Fourie wat op 6 Julie 1946 op Klipplaat in die Oos-Kaap die eerste lig gesien het, het ’n huis gedeel met twee liefdevolle ouers, ’n broer en vier susters.
Nadat hy sy vakmanskap by die spoorweg voltooi het, het hy in Rosmeid opgeëindig waar hy sy vrou, Rita ontmoet het. Uit die huwelik is drie dogters gebore.
Sy lewenspad het hom later genoop om alles op te pak en sy roeping na te volg. So was Fourie se eerste roeping as pastoor dan na ’n klein Vrystaatse dorpie, Bultfontein.
In 1998 het Fourie weer opgepak en na nog ’n klein dorpie, naamlik Sundra, verhuis. Hy het onherroeplik deel van die gemeeskap geword vir baie jare.
By die AGS-kerk op Sundra het die geliefde pastoor sowat 23 jaar in die amp gedien. Fourie se gedenkdiensdiens het op 25 September vanuit die AGS-kerk op Sundra plaasgevind en is deur pastoor Johan van Rensburg waargeneem.
Pastoor George Nelson het die bedankings gedoen. Pastoor Fourie laat sy drie dogters, skoonseuns, kleinkinders en agterkleinkind agter.