Delmas Valke Buurtwag vat verdagtes vas, vind gesteelde voertuie en waak oor hoofweë
Vier persone wat ’n driejarige kind insluit, was met ’n vuurwapen gedreig terwyl hul van selfone, juweliersware, bankkaarte en skoene beroof is. Die rowers het verder ook op die pinkodes van hul bankkaarte aangedring.
AfriForum Delmas Valke Buurtwag het verlede maand weer eens sy toewyding aan die gemeenskap bewys deur die omgewing teen kriminele te beveilig.
Dié buurtwag het nie net talle verdagtes deur die loop van die maand vasgetrek nie, maar ook verskeie voertuie teruggevind wat in die omgewing gesteel is en het ook bystand gebied ná ’n skietvoorval in die omgewing.
Die buurtwag het regdeur die maand op verskeie inbrake gereageer, asook ’n skietery waartydens een persoon geringe beserings opgedoen het. Hulle het boonop ook in afsonderlike voorvalle drie verdagtes aangekeer en aan die polisie oorhandig.
Altesaam vier motors wat deur die maand gesteel is, is ook met behulp van die buurtwag teruggevind. Hulle het verder ook vir ’n groot deel van die maand daarop gefokus om die N12 te beveilig en die ysterpenlokvalle wat gereeld op hierdie hoofweg gestel word, te pak.
In die geval van die N12 in die Delmas omgewing word daar egter meerendeels klippe op die N12 gepak wat in die meeste gevalle bande, wielvellings asook die onderstelle van motors ernstig beskadig.

Motoriste moet weens skade noodgedwonge stop en word in die meeste gevalle van hul besittings beroof en ook soms aangerand.
Volgens protospanlid, Gino Sansovini, is hierdie rowers ook die afgelope tyd meestal gewapen. Gedurende die nag van 26 September tussen omstreeks 18:00 en middernag was daar ses voorvalle aangemeld van voertuie wat klippe op die N12 hoofweg raakgery het.
Tydens een van dié gevalle was mense gestrand nadat hul voertuig klippe getref het. Die Middelburg Blitspatrollie, tesame met van die buurtwag se proto- en reaksiespanlede en het die slagoffers in hul rooi Toyota Etios te hulp gesnel.
Vier mense wat ’n driejarige kind insluit, was glo met ’n vuurwapen gedreig terwyl hulle van selfone, juwele, bankkaarte en skoene beroof is.
Die rowers het verder ook op die pinkodes van hul bankkaarte aangedring. Kort daarna het ’n voertuig van die Middelburg Blitspatrollie op hierdie spesifieke aand ’n klip getref en skade opgedoen.
LEES OOK: WATCH: Multiple vehicle collision on N17 near Kinross water tower turnoff
Die buurtwag het verskeie motoriste bygestaan wat deurgeloop het en selfs twee van die vermeende boosdoeners gewaar en agternagesit, maar hulle het ongelukkig inhegtenisneming ontduik.
“Die Delmas Valke Buurtwag sal nie ophou baklei teen die vlaag misdaad op hoofweë nie en die klippe wat op die pad gepak word nie.
“Dit is net ’n kwessie van tyd voordat ons die bendes vastrek wat hiervoor verantwoordelik is,” het Carel Botha, voorsitter van AfriForum Delmas-tak, gesê.
Botha het verder die ander rolspelers wat die buurtwag bystaan in die bekamping van misdaad, bedank.
“Saam met ander veiligheidinstansies en ons naburige buurtwagte en in goeie samewerking met die polisie maak ons ’n verskil.”
LEES OOK: Evander Regional Court takes armed robber’s age in account during sentencing of gang
“Dit is egter kommerwekkend dat motoriste nie hierdie gevalle by die polisie aanmeld nie. Dit lei daartoe dat die werklike risiko vir motoriste in die gebied nie akkuraat bepaal kan word nie.
“Die polisie en ander veiligheidsrolspelers moet deeglik bewus wees van die omvang van die probleem om doeltreffend aandag daaraan te gee om sodoende die nodige mannekrag te ontplooi,” het Botha by bygevoeg.
Volgens Botha het die Delmas Valke se opgeleide eerstehulpspan ook ’n besige maand agter die rug. Dié span het op meer as 20 noodroepe gereageer en die nodige bystand gebied.
“Ons AfriForum Delmas-tak se eerstehulpspan bied broodnodige bystand aan mense totdat die nodige nooddienste kan oorneem,” het Botha bygevoeg.
Raak vandag nóg by AfriForum Delmas-tak en Delmas Valke Buurtwag betrokke. Besoek www.wordlid.co.za om meer oor hierdie tak te wete te kom.



