VKLM se burgemeester speel gholf, inwoners vra water
“Oornag en met dreigende protesaksie, het beide reservoirs dus genoegsaam water gekry. Hoe is dit moontlik?”
Dit was ‘n vreedsame optog, maar ‘n handjievol Delmas-inwoners het hul stemme duidelik laat hoor oor hulle ontevredenheid met die aanbieding van ‘n prestige gholfdag; dit terwyl inwoners se krane droog is.
‘n Groep van die Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit (VKLM) se inwoners het op 21 November by die ingang van die Delmas Gholklub byeengekom.
Dit nadat op sosiale media wyd verkondig is dat die burgemeester, Vusi Buda, ‘n gholfdag hou om geld vir liefdadigheid in te samel. Die begunstigde is nie bekend gemaak nie.
Streng sekuriteit het betogers daarvan weerhou om die gholfklub binne te gaan. Daar was egter daarop aangedring om ‘n memorandum aan Buda te oorhandig.

Buda, vergesel deur Delmas SAPD Vispol-hoof, luitenant -kolonel Salomé van der Westhuysen, het wel sy verskyning gemaak.
Jolene Coombee het die memorandum aan die burgemeester voorgelees. Buda het dit ten aanskoue van die protesgangers onderteken en onderneem om terugvoer binne sewe dae, voor of op 28 November, te verskaf.
Die memorandum, waarvan ‘n afskrif in Streeknuus se besit is, bevat onder meer vrae rondom VKLM se finasiële bestuur, hul onvermoë om Rand Water te betaal, die belsuit om met ‘n prestige gholfdag voort te gaan ten spyte van inwoners se stryd met basiese behoeftes en vele meer.
Dit het verder daarop aangedring dat toegang tot water ‘n basiese mensereg is, en deur inwoners van hierdie reg te weerhou word deur eerder gholf te speel. Dit dui volgens die inwoners op ‘n gebrek aan empatie en waardigheid teenoor die inwoners van VKLM.

Die memorandum dring aan op antwoorde oor die nie-betaling van Rand Water asook ‘n uiteensetting van waarheen VKLM se geld gaan. Dit vra verder vir ‘n onmiddellike deursigte plan rondom ‘n oplossing vir Delmas se waterkrisis.
Daar word verder in die memorandum gevra vir ‘n publieke vergadering waartydens omvattend verslag gegee sal word rondom R12m wat glo deur ‘n prominente myngroep vir boorgate bewillig is.
Die ontevredenheid oor die prestige gholfdag volg nadat inwoners van Delmas en Botleng die afgelope paar weke baie min water in hul krane gesien en wannneer hulle wel water gehad het, was die druk swak.
Volgens inwoners was daar vanaf 17 tot 20 Oktober geen water nie en inwoners het vir hierdie vier dae geen toegang tot enige water gehad nie.

Volgens ‘n VKLM kennisgewing die vorige dag, was die Delmas reservoir slegs 14% gevul en dié van Botleng op 0%.
“Oornag en met dreigende protesaksie, het beide die reservoirs genoegsaam water gekry. Hoe is dit moontlik?” het Carel Botha, die organiseerder van die aksie gevra.
Die gemeenskap het verder wyd op sosiale media laat hoor dat daar boonop geen kennisgewing of verduideliking vanaf VKLM ontvang word oor die watertekort nie.
“En toe op die aand voor die protesaksie, verskyn daar skielik ‘n kennisgewing vanaf die munisipale bestuurder, Thabo Mashabela,” het Botha vertel.

Die VKLM kennisgewing lees dat daar vals inligting rondom die watertekort op sosiale media verskyn.
Dit verduidelik verder dit is nie weens wanbetaling dat Delmas sonder water sit nie, maar omdat Rand Water glo nie genoeg water kan voorsien nie.
Die kennisgewing noem verder dat VKLM nie hul uitstaande skuld teenoor Rand Water ontken nie, maar dat ‘n betalingsooreenkoms met die voorsiener gesluit het.
Streeknuus het verneem dat water weer teen 24 November begin opdroog het en teen druktyd het menige inwoners weer geen of min water in hul krane gesien nie. Lees meer in die volgende uitgawe oor die burgemeester se terugvoer ten opsigte van dié memorandum.















