Delmas Valke Buurtwag vier hul jaareind
Volgens Botha was dit vir baie jare sy wens dat rolspelers en die onderskeie buurtwagte vanuit die omgewing sal saamwerk.
AfriForum Delmas Valke Buurtwag het op 30 November hul jaareindfunksie en prysuitdeling by die Delmas Gholfklub gevier.
Met sowat 80 gaste teenwoordig het die voorsitter, Carel Botha, almal by die Valke Buurtwag 14de verjaarsdag en jaareind welkom geheet.
Spesiale gaste wat die geleentheid bygewoon het, was Luitenant Kolonel Salomé van der Westhuysen, Vispol hoof van Delmas SAPS, Kaptein Carla Hartley en haar eggenoot Chris, pastoor Gert van der Mescht en sy eggenoot, Adjudant Offisier Elsje van der Mescht en die voorsitter van die Sundra Bulldogs buurtwag, Derek en Angelique Bester.
Pastoor Van der Mescht het die verrigtinge met skriflesing en gebed geopen. Hierna het Botha die suksesse, sowel as die lief en leed van die afgelope jaar met die gaste gedeel.
Hy het die borge wat die geleentheid moontlik gemaak het, bedank. Spesiale dank het ook aan die Valke koördineerders gegaan wat bygestaan het met die reëlings rondom die funskie.
LEES OOK: Violence is problematic in South Africa
Adjudant Offisier Van der Mescht het die jaar se misdaadstatistiek vir Delmas in oorsig geneem en Van der Westhuysen het in haar toespraak die buurtwagte bedank vir hul getroue ondersteuning en samewerking met die polisie.
Sy het ook elkeen bedank wat haar en haar gesin bygestaan het met die onlangse afsterwe van haar man Bennie asook die gelukwense met haar bevordering en aanstelling as Delmas SAPD se nuwe Vispol hoof.
Botha het beklemtoon dat, hoewel sommige lede spesiale toekennings ontvang, elke lid van die Valke Buurtwag belangrik is in die ketting rondom die bekamping van misdaad. Opregte dank het ook aan die onderskeie veiligheidsinstansies, sowel as die Sundra Bulldogs- en Eloff buurtwagte gegaan.
AfriForum was bedank vir die deeglike opleiding van ’n protospan sowel as die kamera’s wat ’n integrale rol in die bekamping van misdaad speel.
LEES OOK: PWG Sinoville 5 klop Laudium 4 maar bly derde op puntelys
Andrew McAdam van CamFX wat die monitering en koördinering van die kameranetwerk doen, was ook bedank. Volgens Botha was dit vir baie jare sy wens dat rolspelers en die onderskeie buurtwagte vanuit die omgewing sal saamwerk.
“Met behulp van kamera’s, die monitering daarvan, goeie kommunkasie en goed opgeleide proto-, reaksie- en mediese spanne het daardie net nouer getrek en getuig die vele suksesse daarvan,” het Botha laat hoor.
Soos met die gebruik tydens die Valke Buurtwag jaareindfunksies, het lede wat uitstaande diens lewer erkenning daarvoor ontvang.
Verskeie lede het sertifikate ontvang wat gewissel het van getroue ondersteuning, bystand en vele meer. Reaksielede wie spesiale erkenning gekry het,was Cherese Meyer, Henning du Toit, Marnu Kruger, Danie Oelofse, Johan Fabricious, Grewar Biermann, Charl Kuhn, Percy Human, Ricou Boshoff, Tiny Quinn, William Coleman en Louis Coetzee.
LEES OOK: Oud-kapelaan van Secunda deel sy mening oor geslagsgeweld
Die eerstehulp span wat bestaan uit Jolene Rheeder, Kobie Rheeder, Hennie Rheeder, Odette du Toit, Grewar Biermann, Thia Botha, Ansa Oosthuizen en Ricou Boshoff het ook spesiale erkenning ontvang vir die diens wat hulle in die gemeenskap lewer.
Spesiale erkenning vir getroue bystand en ondersteuning het ook aan die mees senior lid, Malita inwoner, Rassie Erasmus, gegaan. William Harvey van Delmas Herleef, het erkenning gekry vir sy volgehoue vul van slaggate in Delmas.
Protospan lede, Paul van der Merwe, Gino Sansovini, Francois Kruger en Hennie Rheeder was ook met trofee’s vereer.
Henning en Odette du Toit was as die Valke Paar van die Jaar gekroon.
Die Valke Nes van die Jaar toekenning het aan die Biermann gesin gegaan en Jolene Rheeder was as Koördineerder van die Jaar aangewys. Die leier van die protospan, Paul van der Merwe, was as Protospanlid van die Jaar aangewys.
Soos met elke vorige prysuitdeling was die asems opgehou vir die aankondiging van die beste Vrou- en Man Valk van die Jaar.
Jolene Rheeder is as Vrou Valk van die Jaar aangewys. Die Man Valk van die Jaar word deur Gino Sansosvini en Johan Fabricious gedeel.



