Digbundel verklap 92-jarige van Secunda se verborge talent
Oom Dolf Nagel was 58 jaar met die liefde van sy lewe, Dottie, getroud.
Oom Dolf Nagel (92) of Dolfie soos baie mense hom noem, het kort voor sy geliefde Dottie se dood, die digter wat diep in sy siel geskuil het, ontdek.
Die gedigte het uit sy pen geborrel en handel oor die lewe, die liefde, vakansies, herinneringe, geloof, mense in sy lewe, goeie én hartseer tye en selfs oor oud word.
Sommige van dié gedigte getuig van tye wanneer daar diep gedink is, terwyl ander bykans speels met die Afrikaanse taal is.
Nagel se kinders wat nie dié kant van hul pa geken het nie, het die gedigte en skrywerk in ’n bundel, Gediggies, gedagtes en verdigsels laat druk om met Oom Dolfie se naasbestaandes te deel.
Dié afgetrede elektrisiën was eers effens verleë oor die koerant onderhoud en die belangstelling in sy gedigte, maar hy het gou geblom toe hy oor sy vrou begin praat het.
Hy was 58 jaar getroud met die liefde van sy lewe. Sy Dottie is in 2016 oorlede.
“Ek was so 25 jaar oud en sy 23 toe ons ontmoet het. Dit was my eerste dag as elektrisiën vir konstruksiewerk op Daggafontein en ek het gedink die meisie wat my aanteken, is darem baie oulik.
“Ek was maar ’n stil outjie, maar toe raak ek skielik aan die praat.”
Hy het dadelik begin vlerk sleep en het ook haar ouers ontmoet. Dié nuwe romanse was nog nie eers behoorlik aan die gang nie toe Nagel ’n pos in Nababeep in Namakwaland aangebied is.
“Ek het geweet Dottie is die vrou vir my, maar het nie geweet hoe lank ons uitmekaar sou wees as ek eers vertrek het nie.”
Die paartjie het een aand tydens ’n wandeling oor hul penarie gesels en dis net daar wat Nagel op sy knie gesak het en die ja-woord gevra het.
Dottie het dadelik ingestem en die twee is binne ’n maand na hul ontmoeting getroud. Hoewel daar deur die jare hier en daar ’n meningsverskil was, was daar nooit ’n bakleiery nie.
“As daar ’n probleem was, het ons dit uitgepraat en nie goed opgegaar nie. En ons het elke aand saam godsdiens gehou en gebid,” het Nagel hul geheim vir ’n goeie huwelik verklap.
Uit hul huwelik is Pierre, Dirk en Ria gebore. Vandag is daar sewe kleinkinders en reeds twee agterkleinkinders. Die Nagels het destyds nog voordat Sasol se torings hierdie kontrei se horison versier het en Secunda maar nog ’n pypdroom was, op die Oostelike Hoëveld aangekom.

Nagel het toe by die destydse Bracken Myn gewerk en die pad tussen Kinross en Trichardt was nog ’n grondpad.
“Ek het gereeld wanneer ons op hierdie pad gery het, gekyk hoe die bou van die Sasol aanleg vorder, en dan het ek vir myself gesê dat ek nooit by daardie plek sal wil gaan werk nie.”
Volgens Nagel het die Here egter ander planne vir hom gehad en is hy toe later ’n goeie werk by hierdie petrochemiese aanleg aangebied.
Nagel het so gesien hoe Secunda wortel skiet en uitbrei. Hy het 1983 die huis gekoop waarin hy steeds woon. Hy kan skaars glo hy is al 92 jaar oud.
“Ek voel nie so oud nie. Ek is nog sterk en bestuur ook nog,” het hy vertel.
Op die vraag of hy vir 100 mik, het hy met ’n glimlag gesê: “Net die Here kan dit bepaal. Ek het net besef dat ek altyd gereed moet wees vir wanneer Hy my gaan kom haal.”
Het nuwe gedigte al te voorskyn gekom?
“Nee, ek is vir eers uitgeskryf. Nou speel ek graag rekenaarspeletjies,” het Nagel afgesluit.
LEES OOK: AfriForum maak sy stem dik oor Eskom se buitensporige kragtarief in Mpumalanga
LEES OOK: GMM council speaker concerned about the incomplete sewer project in eMbalenhle



