Organisasie help steeds met water op Bethal terwyl munisipaliteit faal
Organisasie meen munisipalitiet skep verkeerde beeld.
AfriForum glo die Govan Mbeki Munisipaliteit se 95% voldoening aan die Departement van Water en Sanitasie se Bloudruppel-vereistes skep ’n verkeerde beeld van die werklikheid.
Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder in die Hoëveld, meen dat Walter Mngomezulu, burgemeester van die Gert Sibande Distriksmunisipaliteit, waaronder die Govan Mbeki Munisipaliteit val, se ‘glaspaleis’ in Ermelo hom van die werklikheid verwyder.
Dit kom nadat Mngomezulu, volgens ’n berig in die Ridge Times, aangevoer het dat die Govan Mbeki Munisipaliteit aan die Departement van Water en Sanitasie se Bloudruppel-vereistes voldoen.
“Terwyl hy die munisipaliteit se kwansuis-watersuksesse verkondig, sit inwoners in dié munisipale gebied telkens sonder water,” het Bekker gesê.
“Dienslewering hier is beroerd, en Mngomezulu het duidelik nie ’n benul hoe om dinge reg te ruk nie en probeer nou met goedkoop praatjies in die media politieke punte wen.”
AfriForum se noodwaterpunte in dorpe wat Bethal insluit, word gereeld deur mense oorval wanneer watervoorsiening tot stilstand kom. Plaaslike boere en die gemeenskap spring dikwels in om in tye van waternood te help verligting bring.
LEES OOK: Je-Ani Swiegelaar praat by vroueoggend op Standerton
“Intussen word bejaardes telkens die swaarste getref deur die onbetroubare watervoorsiening. Te midde van gereelde ernstige watervoorsieningsprobleme staan die munisipaliteit ook apaties en versuim om genoeg watertenks te voorsien.
“Boonop is daar ook al in die verlede bewyse gelewer van munisipale amptenare se betrokkenheid by die sogenaamde watermafia en gevalle waar munisipale watertenkwaens water teen betaling vir huiseienaars opvul,” het Bekker gesê.
“Dit is ironies dat, terwyl die burgemeester beweer dat die Govan Mbeki Munisipaliteit sukses behaal in watervoorsiening, AfriForum se netwerk van noodwaterpunte weer genoodsaak word om saam met boere in die Bethal-omgewing water aan inwoners te lewer.”
Die oorsaak van die huidige onderbrekings is volgens Rand Water glo weens die onlangse skerp toename in waterverbruik oor die hele netwerk. Bekker meen dit is duidelik dat dié grootmaatwaterverskaffer nie meer kan byhou met die verbruik van munisipaliteite nie.
“Verbruikers kan egter nie alleen die las dra nie. Waterlekkasies in munisipaliteite soos die Stad van Johannesburg is die grootste bydraende faktor tot die uitermatige hoë waterverliese in die Rand Water-netwerk.
“Mngomezulu se munisipaliteit moet nou daadwerklik optree, goedkoop politieke praatjies laat staan en hom eerder bepaal by die instelling van werkbare alternatiewe planne om sy distrik se mense in dié krisis by te staan,” het Bekker gesê.
LEES OOK: Elders project brings solar power to Bethal communities




