Vrou van Secunda begin potgooi en deel getuienis
Germa Louw deel haar pyn en hoop hier en wil ook ander se getuienis die lug laat sien.
Germa Louw (41) se potgooi, Getuig, is uit pyn gebore, maar sy gebruik dit om haar eie en ander mense se stories te vertel. Louw vertel hoe sy in depressie verval het toe sy 18 was en haar ma doodgeskiet is.
“Ek het my geloof verloor en opgegee op die lewe,” het sy gesê.
Die gesin was destyds in Kempton Park by haar ouma se kleuterskool en op pad om vir haar ’n klavier te koop.
“My ma en pa het saam met my tannie bank toe gery om geld te gaan trek. Op pad terug van die bank is hulle deur rowers agtervolg. Die mans het by die kleuterskool agter my ouers stilgehou.
“Hulle wou alles hê, selfs die bakkie. Een van hulle het op my ma, wat in die bestuurdersitplek gesit het, geskiet. Toe ek hoor sy is geskiet, het ek gedink sy is oukei, want dit was in haar skouer.”
Die koeël het egter by haar skouer ingegaan en by haar heup uitgegaan. Sy moes vir ’n noodoperasie gaan.
“Ek het geglo ek sou haar uit die teater uitbid en sy sou lewe,” het Louw gesê.
“Toe my pa van die hospitaal af terugkom en ek sy gesig sien, het ek geweet die uitkoms was nie waarvoor ons gehoop het nie. Ek was so geskok Ek het vir die Here gesê ons het dan gebid. Selfs by haar begrafnis het ek nog hoop gehad dat sy sou opstaan, dat ek haar lewendig sou bid.
“Na die begrafnis, toe alles verby was, het ek nog alleen by die graf gestaan en dit is toe die duiwel weer eens gewerk het en my laat wonder het ,waar was God. Die duiwel het my laat glo dat God dan eintlik nie lief is vir my nie, want as Hy was, hoekom het hierdie gebeur?”

Louw was kwaad, teleurgesteld en verbitterd en wou niks met die Here te doen hê nie. Vir vyf jaar het sy geen verhouding met Hom gehad nie, hoewel haar Bybel steeds langs haar bed gelê en stof opgaar het.
“Die enigste rede hoekom ek dit nie weggegooi het nie, was omdat dit vir my sentimentele waarde gehad het. My oupa het dit vir my gegee, en die Bybelsak het my ma vir my gegee.”
Louw het naderhand gereageer op die Heilige Gees se stem wat heeltyd in haar oor gefluister het om Job in die Bybel te gaan lees.
“Ek het besef ek het nie naastenby soveel verloor soos Job en soos baie ander mense nie. God het nie die sneller getrek daardie dag toe my ma dood is nie, ’n mens het. Ek het in daardie oomblik besef dat God my nooit in die vyf jaar wat ek Hom verwerp het, gelos het nie.
LEES OOK: Madeleen geniet werk as hoof by Christenskool tussen Evander en eMbalenhle
“Ek het die genade van God gesmaak en besef dat as ek in daardie vyf jaar sou doodgaan, sou ek verlore wees.”
Louw is vandag dankbaar vir haar seer en dat sy haar getuienis kan deel. Sy is die eienaar van Clayjars Books & Gifts by die Kruik Kerk en die ma van ’n 12-jarige tweeling.
Hoe sy die winkel gekoop het en swanger geraak het met die tweeling, nog twee getuienisse om te vertel.
Haar eerste episode van Getuig is haar eie getuienis, en sedertdien het sy reeds ses ander mense se stories van hoop en wonderwerke gedeel. Besoek haar potgooi-kanaal op YouTube, Getuig Podcast, of luister op Spotify, Getuig.



