Twee vroue nooi mense na Christelike kampe op Charl Cilliers
Malakya Kampterrein huisves oorseese gaste.
Die Malakya Kampterrein op Charl Cilliers bestaan reeds nege jaar, maar dit was lank vóór dit dat Annelie Ackermann ’n droom gehad het om ’n kampterrein vir Christelike kampe te begin.
Ackermann en Freda Swanepoel, ’n evangelis, werk nou saam wanneer daar kampe is en bedien mense en verkondig die evangelie.
Ackermann het vertel hoe sy en haar man, Sampie, die grond waar die kampterrein is, teen ’n baie billike prys gekoop het nege jaar terugen hoe hulle die Here se hand in dié transaksie gesien het.
“Daar is oor die kampterrein geprofeteer dat hier mense vanaf oorsee sal kom om hier te kom kampe bywoon en hier was al mense van Amerika, Engeland en Duitsland, ”het Ackermann vertel.
Sy het nie in ’n Christelike huis grootgeword nie, maar toe sy op die ouderdom van 14 koshuis toe is op Polokwane (Pietersbrug) in die destydse Noord-Transvaal, het Ackermann begin kerk toe gaan.

Haar pa was ’n alkoholis en Ackermann het gereeld gebid dat hy tot bekering moes kom. Toe sy in die hoërskool was, het haar pa destyds, op haar verjaardag gesê sy geskenk aan haar is dat hy sal ophou drink.
Net daar het hy sy drank en tabakpyp neergesit en nooit weer teruggekyk nie. Ackermann het van jongs af ’n diep verhouding met die Here gehad en die kampterrein was net die regte ding waar sy haar bediening kon laat voortvloei.
Swanepoel het Ackermann het mekaar drie jaar terug ontmoet en die Here het toe reeds vir Swanepoel gesê hulle twee gaan nou saamwerk in die bedieningsveld.
Swanepoel het vir baie jare liefdadigheidswerk in plakkerskampe gedoen en so paar jaar terug het sy en haar man, Stefan Swanepoel, ’n direkteur by Dewfresh, besluit om sopkombuise opp te maak.
Hulle het dié sopkombuise hoofsaaklik op Lebohang en eMbalenhle oopgemaak. Die egpaar ondersteun en bedryf ook ouetehuis, Bybelskole vir kinders, rehabilitasie-sentrums en is betrokke by verskeie gemeenskapsprojekte.

“Ons kan dit doen deur die genade van God in ons lewens,” het Swanepoel gesê.
Haar bediening het in hospitale, tronke, ouetehuise en rehabilitasiesentrums begin, maar op die oomblik fokus sy meer op die kampe.
Swanepoel glo sy is geroep vir ’n tyd soos hierdie en vir haar en Ackermann gaan dit nie oor ’n spesifieke kerk of godsdiens nie, maar oor ’n diens wat hulle aan die gemeenskap wil lewer.
Malakya Kampterrein is oop vir enige kerk of denominasie of persone wat ’n manne-, vroue-, kinder- of Christelike kamp wil aanbied.
“Dit gaan nie vir ons oor ’n kerk of godsdiens nie, dit gaan oor gehoorsaamheid aan God,” het Swanepoel gesê.

Ackermann probeer die kampe se kostes so laag as moontlik hou sodat soveel mense moontlik dit kan bywoon.
Hulle is dus van skenkings en donasies afhanklik.
Dié kampterrein het netjiese kamers, ’n groot tuin en ’n swembad. Daar het ook onlangs ’n winkel op die terrein oopgemaak wat onder andere olies, gebedsmantels en ander produkte vanuit Israel verkoop.
Ackermann en Swanepoel bied by elke kamp ’n lering van die tabernakel in die Bybel aanbied. Hulle het die gemeenskap en ondernemings aangemoedig om in hul bediening en die kampterrein te saai.
Hulle benodig maandeliks kruideniersware soos koffie, tee, melk en suiker onder meer om suksesvolle kampe aan te bied. Dié kamptterrein is as ’n nie-winsgewende organisasie geregistreer en hulle kan vir ondernemings wat skenk, ’n 18A-sertifkaat uitreik.
Hulle het ook enige iemand wat by die kampterrein betrokke wil raak en as vrywilligers wil help, genooi om hulle te skakel. Vir meer inligting, skakel Ackermann by 079 899 7647.














