Turkye roep vir drie modelle van Secunda
Tanya, Beyanke en Launa benodig nog geld om droom realiteit te maak.
Drie modelle van die Jenesaisquoi Modelskool is gekies om vanaf 8 tot 18 Mei Turkye toe te gaan. Die eienaar van Jenesaisquoi Modelskool, Tanya Maartens, haar dogter Beyanke Maartens en Launa Jansen van Vuuren samel tans geld in om dié droom ’n realiteit te maak.
Beyanke is verlede jaar as Mejuffrou Tiener 2025 en Mejuffrou Tiener Heelal Suid-Afrika gekroon. Hoewel sy al ’n rits ander titels ook op haar kerfstok het, is sy tog op haar senuwees om in Turkye te gaan deelneem, maar sy sien ook baie uit na dié geleentheid.
Sy oefen daagliks haar modelwerk asook om te sing, want die deelnemers moet ook tydens die kompetisie een van hul talente op die verhoog wys.
Tanya besit al vir jare die Jenesaisquoi Modelskole op Bethal en Secunda en is wel bekend met die modewêreld. Sy was egter verbaas toe sy ook gekies is om in Turkye te gaan deelneem.

Sy werk voltyds as kostekontroleerder en beoefen haar stokperdjie as model deeltyds. Dié ma en dogter verkoop nou kaartjies vir ’n tombola waar ’n mens ’n skaap kan wen om geld in te samel vir hul reis na Turkye.
Launa het 10 jaar gelede begin om modelwerk te doen toe sy uitgedaag is om aan by die destydse Wieleskou se modelkompetisie deel te neem. Sy is al ses jaar by Jenesaisquoi Modelskool betrokke en een van die grootste titels wat sy al gewen het, was die Mevrou van die Heelal-titel.
Sy sien uit daarna om Suid-Afrika in Turkye te gaan verteenwoordig en ook om dié land se kos en kultuur te gaan ervaar. Haar doelwitte vir haar Turkye-reis is om persoonlik te groei, internasionale blootstelling te kry en om ’n inspirasie vir ander te wees.
Enigiemand wat dié drie vroue finansieël wil ondersteun, kan Tanya of Launa by 076 192 4420 of 061 065 7417 skakel.
LEES OOK: Radio-omroeper van Secunda gekies as Mevrou Suid-Afrika finalis
LEES OOK: Standerton Mall will open its doors next year



