Standerton-boorling en span ry met son-aangedrewe motorfiets van Nairobi tot Stellenbosch
’n Dokumentêr, Recharging Hope, oor doktor Stephan Lacock en kie se wedervaringe is tans in eposides op YouTube te sien.
Met ’n visie om Afrika se publieke vervoerstel te verbeter en ’n sin vir avontuur, het doktor Stephan Lacock twee jaar gelede een van die grootste projekte van sy lewe aangepak.
’n Dokumentêr oor dié 25-jarige Standerton-boorling en sy span se reis met ’n son-aangedrewe motorfiets vanaf Nairobi in Kenia na Stellenbosch in Suid-Afrika het onlangs, in episodes, die lug gesien.
Die laaste episode in dié dokumentêr Recharging Hope word op 9 April op YouTube vrygestel. Lacock en sy ouer boers, Henro (30) en Marno (32) het op Standerton grootgeword.
Hy het sy doktorsgraad in ingenieurswese aan die Universiteit van Stellenbosch behaal. Sy professor, Thinus Booysen, het oppad terug tydens hul tog, in Lusaka, by die span aangesluit.
Lacock se pa, Ryno, en sy middelste broer, Henro was ook deel van die span.
Die ander spanlede was Masa Kituyi van Roam Kenya wat gehelp het om die motorfiets te ontwerp en te bou, dr. Jason Samuels, een van prof. Booysen se oud-studente, Lewis Seymour en Hanno Erwee.

DESCRIPTION: Die span neem ’n blaaskans langs die pad.
Dié projek het die lig gesien toe dr. Lacock in 2022 met sy nagraadse studies by die Universiteit van Stellenbosch begin het.
Die projek was ook deel van ’n gekombineerde poging tussen Roam Air en die Universiteit van Stellenbosch wat in dieselfde jaar ’n elektriese mobiliteits-laboratorium bekendgestel het.
As deel van die werk wat hy vir dié universiteit gedoen het, moes dr. Lacock na Nairobi in Kenia reis en daar ’n konferensie bywoon waar hy van sy werk moes aanbied.
Daar het dr. Lacock die maatskappy, Roam Electric, wat motorfietse vervaardig, raakgesien. Vir sy nagraadse studies het hy ’n bestaande brandstof-aangedrewe taxi omgeskakel in ’n elektriese taxi.
Dit was die eerste geregistreerde elektriese taxi in Suid-Afrika. Daarna het Lacock en sy span ’n 56-sitplek MAN bus vir die maatskappy, Golden Arrow, omgebou sodat dit ook elektries-aangedrewe is.
Dit was ook die eerste omskakeling van ’n bus in sy soort in Suid-Afrika. Dié taxi het later as ’n 56-sitplek Golden Air-taxi bekend gestaan. Dr. Lacock wou egter steeds die publieke vervoerstelsel in Afrika verbeter en die idee om ’n son-aangedrewe motorfiets te toets, is gebore.

Hy het na Roam Electric uitgereik en dr. Lacock se visie het momentum gekry.
“My droom vir dié projek was om mense se perspektief oor elektriese mobiliteit te verander. Mense kan baie daarby baat en dit kan hul lewens verander,” het dr. Lacock gesê.
Dr. Lacock wou eers die motorfietse vanaf Kenia na Suid-Afrika laat vervoer, maar nadat hulle ses maande gesukkel het om kwotasies by verskeie koerier-ondernemings te kry, het hulle gewonder of dit nie beter sou wees om self met dit te ry nie.
“Ek het geweet dit was ’n mal idee en dat net my familie my sou ondersteun,” het dr. Lacock vertel.
Sy pa en broer was dadelik gewillig om die tog saam met hom aan te pak en deel van die span te wees. Roam het die motorfiets geborg en die span het begin met die beplanning, voorbereiding en logistieke reëlings om die tog aan te pak.
Die span het uiteindelik op 17 September 2024 vanaf Stellenbosch vertrek met voertuie groot genoeg om al die sonpanele te vervoer en 11 dae later, op 27 September 2024, het hulle veilig in Nairobi aangekom.

Twee dae later, op 29 September, het die span vertrek vanaf Nairobi met die motorfiets en die ondersteuningsvoertuie. Hoewel dit vir die span ’n uitdagende tog was, het hulle van die mooiste dele van Afrika gesien, soos die Victoria Watervalle in Zambië, asook dele van Malawi en Botswana.
“Op dag twee oppad terug Suid-Afrika toe, maar wat toe vir my eintlik dag 12 was as ’n mens die 10 dae van Suid-Afrika na Kenia bytel, was ek regtig moeg. Die hele span was moeg. Ons moet elke oggend vroeg opstaan en kom meeste van die tyd eers na donker by ons kampplek aan.
“Op daardie dag was die sonsopkoms so mooi en ek het die diere gesien en dit was asof Afrika vir my gesê het: ‘Ervaar die vrede’.”
Die span was gedurig op die uitkyk vir ’n groot oop spasie om die sonpanele te laai. Een van die hoogtepunte van die tog vir dr. Lacock was toe hy self op die motorfiets gery het in die reën en by die volgende plek waar hulle gestop het, gesien het alles is spierwit.
’n Haelstorm het dié dorpie in Tansanië getref en dit was ook die eerste keer wat dié inwoners hael gesien het. In Malawi was die weer baie sleg en dit het vir drie dae aanmekaar gereën.
Dr. Lacock het die moeilike besluit gemaak dat die span eers ’n rusdag moes geniet voordat hulle verder gereis het. Orals waar hulle gery het, het mense van die plaaslike nedersettings van elke land hulle gestop en wou presies weet hoe die motorfiets werk.
“Dit was wonderlik om hulle gesigte te sien as ons vir hulle wys hoe die motorfiets werk en hulle besef dit kan hulle baie help en geld spaar,” het dr. Lacock gesê.
Die span het uiteindelik, ses lande, 17 dae en 6 000km later, Stellenbosch bereik en hul projek suksesvol voltooi.









