Local news

Bejaarde van Bethal stel vierde digbundel vry

Pat Keyser het al sowat 600 gedigte in die laaste 10 jaar geskryf.

Die plaaslike digter Pat Keyser (84) het onlangs sy vierde digbundel vrygestel.

Keyser het 10 jaar gelede eers begin gedigte skryf en het sy eerste digbundel, Mymeringe, in 2020 vrygestel.
Sy tweede digbundel, Gedagtes, het in 2021 gevolg en sy derde een, Gedagtes 2, in 2022.

Sy vierde digbundel se naam is Gedagte 3.

Hy was eers in die bankwese, maar werk nou al vir jare as makelaar en het steeds ’n handjievol kliënte.
Gedagte 3 bevat 96 gedigte en ’n kortverhaal.

Keyser meen dit is sy laaste werk en het gesê hy het al 600 gedigte die afgelope 10 jaar geskryf.

“Ek het ses maande laas ’n gedig geskryf; ek moet ’n gevoel kry om een te skryf,” het Keyser gesê.

Hy word soms in die nag wakker en kry dan daardie gevoel.

“Ek het ’n pen en ’n boekie langs my bed en as ek wakker word met ’n gedig in my kop, skryf ek die hoofgedagtes dadelik neer.”

Radio Kragbron saai reeds die afgelope twee jaar elke Donderdagaand een van Keyser se gedigte uit.

“Ek het al so baie gedigte geskryf. Van hulle het ek al vergeet,” het Keyser gesê.

Hy skryf gedigte oor enigiets, van die liefde tot gedigte met ’n bietjie humor in.

Hy besoek soms die aftree-oord op Bethal en lees gedigte voor vir die inwoners.

“Dit is hartseer om te sien hoeveel inwoners sit daar elke dag en hulle kinders of families kom kuier nooit vir hulle nie,” het Keyser gesê.

As sy werk as makelaar hom nie besighou nie, kyk hy televisie of lees of gaan stap hy soms om die blok.

Hy het ook al ’n boek geskryf waarin die verhaal vertel word van ’n jong seun wat 100 jaar gelede geleef het en hoe sy lewe destyds was, en van ’n jong seun wat in vandag se tyd met tegnologie leef.

Hoewel Keyser dit geniet het om dié boek te skryf, dink hy nie hy sal dit laat publiseer nie.

Sy digbundels is beskikbaar by Malherbe Uitgewers.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Jana Oosthuizen

I have been working for the Ridge Times newspaper for 15 years. I worked in a few other fields before starting to work for the newspaper in October 2009. I have a diploma in Journalism and the areas where I cover news include Secunda, Bethal, Trichardt, Evander, Leandra and Kinross.

Related Articles

Back to top button