Bulldogs blaf nie vir spanne nie
Talisman Bulldogs se eerste- en tweedespan het Saterdag, 2 November kragte met spanne van eMbalenhle en Kinross gemeet en oortuigend gewen.

SECUNDA – Talisman Bulldogs se eerste- en tweedespan het Saterdag, 2 November kragte met eMbalenhle en Kinross gemeet en oortuigend gewen.
Talisman Bulldogs 1 se kaptein, Douglas Gird, het die loot gewen en besluit om eerste veldwerk te doen.
’n Goeie boulvertoning van verskeie spelers het gesorg dat die span van eMbalenhle slegs 177 lopies in 34.4 beurte kon aanteken.
Boulers wat uitgestaan het, was Frank Biddlecombe met 3/11 in ses beurte asook Douglas Gird, Bertie Pretorius en Juan Brits met twee paaltjies elk.
Spelers wat met die kolf in die hand uitgeblink het, was Muaritz Jordaan wat 79 lopies aangeteken het voordat hy sy paaltjie verloor het.
Bulldogs het die wenlopies in die 29.4 beurt aangeteken wat hulle van ’n bonuspunt verseker het.
Mauritz Jordaan was die speler van die wedstryd vir sy uitstekende vertoning met die kolf.
In die tweede wedstryd het Talisman Bulldogs 2 se kaptein, Gert Swanepoel, die loot gewen en besluit om eerste te kolf.
Openingskolwers het egter gesukkel en die Bulldogs was 69/4.
Middelrangkolwers Trevor Young en Andre Venter het egter vasgestaan en ’n uitstekende kolfbeurt gehad en 107 lopies gesamentlik aangeteken in net 110 balle.
Andre Venter het op 69 sy paaltjie verloor na 64 balle.
Trevor Young het tot op die laaste as anker geveg vir sy 47 lopies wat hulle op 235/9 gelaat het na 50 beurte.
Kinross het begin kolf, maar die Bulldogboulers het ander planne vir hulle gehad.
Kinross het drie vinnige paaltjies verloor voordat Thulani Mona sy voete begin vind het.
Hy het ’n goeie telling van 45 lopies in net 35 balle aangeteken voordat hy uitgegee was op ’n bvp-beslissing.
Dit was afdraende van daar af en Kinross het nie antwoorde gehad op die boulwerk van die honne nie.
Andre Venter het gespog met 4/37 in sewe beurte met een leë beurt.
Ander boulers soos Francois Buys en Pieter Fourie het elk twee paaltjies geneem.
Kinross is vir ’n totaal van 141 lopies uitgeboul, wat vir die Bulldogs ’n bonuspunt verseker het.
Andre Venter met sy uitnemende kolf- en boulwerk is as speler van die wedstryd aangekondig.
Talisman Bulldogs 1 speel komende Saterdag op Middelburg en Talisman Bulldogs 2 speel tuis teen Piet Retief.