SECUNDA – Laerskool Goedehoop se 0/9- en 0/10-rugbyspanne het op Dinsdag, 24 Junie die Mpumalanga Rugbyliga gewen.
Dié twee spanne het hul vorige ses wedstryd ook gewen en die tellings van hul eindstryde was 22-0 vir die 0/9-span en 20-0 vir die 0/10-span.
Die rugbyligas vir laerskole bestaan uit drie afdelings wat klein skole (leerlinggetal van seuns: 1 tot 200), middelskole (leerlinggetal van seuns: 201 tot 350) en groot skole (leerlinggetal van seuns 351 en hoër) insluit.
Laerskool Goedehoop het in die afdeling vir groot skole deelgeneem en met skole soos Laerskool Nelspruit, Witrivier, Middelburg, JJ van der Merwe, Kragbron, Klipfontein, Bergland, Lydenburg en Laeveld kragte gemeet.
Die halfeindronde het op 18 Junie by die Hoër Tegniese Skool in eMalahleni (Witbank) plaasgevind en die 0/9-span het teen Laerskool Witrivier te staan gekom en die wedstryd gewen met ’n telling van 20-0, terwyl die 0/10-span ook hul wedstryd teen Laerskool Nelspruit gewen het met ’n telling van 26-10.
Die eindronde het ook by die Hoër Tegniese Skool plaasgevind en die 0/9-span se finale stryd was teen Laerskool JJ van der Merwe terwyl die 0/10-span se finale stryd teen Laerskool Lydenburg was.
“Laerskool Goedehoop se rugbyseuns het met hart en siel gespeel, hul spelpatrone gevolg en die vrugte van harde werk gedurende die rugbyseisoen gepluk,” het me. Juanita Fourie, skakelbeampte van Laerskool Goedehoop, gesê.
“Ons is trots op albei rugbyspanne wat as die Mpumalanga-wenners aangewys is.”



