BETHAL – Leanco Stans stoei sedert 2008 en omdat sy drie broers het, het die Stans-gesin stoei as ’n gesinsport beoefen.
“Sy het vir die eerste keer op Bethal gestoei, maar dit was ’n gesukkel om ’n afrigter vir haar te kry omdat sy ’n meisie is,” het me Esmari Stans, haar ma, gesê.
Mnr. Hansie Kruger, haar afrigter, kweek ‘n liefde vir die sport by haar.
Sy klop ook glo haar broers in stoei
Leanco is gekies om Suid-Afrika in die 60kg-vrouestoei by die Jeug Olimpiese Spele (JOS) te verteenwoordig.
Dit is ‘n droom wat na baie harde werk ’n werklikheid vir haar geword het en haar voorbereiding hiervoor het reeds verlede jaar begin.
Sy het in 2013 aan die Afrika-kampioenskappe in Chad deelgeneem.
Leanco het die VSA en hul Olimpiese sportsentrum besoek en aan die wêreldkampioenskappe in Serbië deelgeneem.
Mnr. Marco Coetzee, afrigter, het haar die afgelope vyf maande voltyds met voorbereiding vir die Afrika-kampioenskappe en die JOS gehelp.
Die voorbereiding behels ’n gemiddeld van 10 tot 12 twee uur oefensessies weekliks, kompetisies en naweke se nasionale oefenkampe.
Leanco het kragte met stoeiers van Egipte, Tunisië, Algerië en Nigerië gemeet tydens die 2014 Afrika-kampioenskappe.
Die Suid-Afrikaanse stoeiers moes by die 2014 Afrika-kampioenskappe wen om te kwalifiseer.
Daar kan slegs sewe stoeiers per gewigskategorie vir die JOS kwalifiseer en die agste stoeier word dan deur FILA, die internasionale stoeifederasie, aangewys.
Leanco het onlangs by die res van die deelnemers van Suid-Afrika wat na Nanjing in Sjina vir die JOS op pad is, aangesluit.
Haar stokperdjies is lees en enigiets wat pote het maak sy glo mak en sy neem ook aan die Suid-Afrikaanse Jeugskou met hoenders deel.
Sy draf daagliks saam met haar skaaphond, Tinka, en sy wil graag ’n veearts word as sy groot is omdat sy ’n groot diereliefhebber is.



