Gestremde leerlinge neem aan sportdag deel
Eureka Skool bied jaarlikse sportdag aan.
SECUNDA – Leerlinge van Marietjie Skool het onlangs die jaarlikse sportdag vir leerlinge met spesiale onderwysbehoeftes op Vanderbijlpark bygewoon.
Pick n Pay het dié dag aangebied en elke kind van middagete, ’n lekkergoedpakkie en ’n geskenkpakkie voorsien.
Dit was vanjaar die 18de keer wat dié dag aangebied is en Eureka Skool vir Leerlinge met Spesiale Onderwysbehoeftes is altyd die gasheerskool en me. Magda van Lienden van Marietjie Skool het gesê hul reëlings is puik.
Volgens haar word daar items vir erg gestremde leerlinge wat 50m- en 100m-naellope insluit, aangebied.
Van die ander items is stap met hulp, hardloop vir hemipleë en serebraalgestremde leerlinge, rolstoelresies sonder hulp, kruip, doelgooi en doelskop.
Altesaam 30 atlete van Marietjie Skool het vanjaar aan dié sportdag deelgeneem en elkeen het ’n medalje ontvang.
“Vir elke kind is sy item baie belangriker as enige Springbokwedstryd.
“Die spanning loop hoog en net die beste word gelewer,” het me. Van Lienden gesê.



