SECUNDA – Sasol Krieketklub se eerste- en tweedespanne het Saterdag, 8 November met onderskeidelik Standerton en Ermelo kragte gemeet.
Sasol 1 se wedstryd is weens die reën gestaak en Sasol 2 het in die stof gebyt teen Ermelo 2.
Sasol 1 het 315 lopies vir vyf in hul 50 boulbeurte aangeteken.
Douglas Richardson was die beste kolwer met 137 nie uit nie en Arnold Nel en Michael Hobkrik het onderskeidelik 34 en 36 lopies aangeteken.
Volgens die voorsitter van die klub, mnr. Ignus Koekemoer, kon Sasol 1 net 14.2 boulbeurte kry voordat die wedstryd gestaak is.
“Standerton was op daardie stadium uit met 24 vir vier,” het mnr. Koekemoer gesê.
Neil Salzmann was die beste bouler met vyf lopies in vyf boulbeurte vir een paaltjie en Koekemoer het twee paaltjies vir twee lopies in twee boulbeurte geneem.
Werner Coetzee was die beste kolwer van Sasol 2 met 43 lopies en die beste bouler was Diaan du Plooy met een paaltjie vir 25 lopies in 10 boulbeurte.
Sasol 1 speel Saterdag, 15 November teen Ermelo op Ermelo se tusiveld en Sasol 2 speel by die Sasol Ontspanningsklub teen eMbalenhle 2.
Vir meer inligting, skakel mnr. Koekemoer by 072 765 5443.



