CHARL CILLIERS – Mnr. Gavin Deas (44) is vanjaar as die PMP Pro-Am-skietkampioen aangewys nadat hy ’n groepering van 3.17mm geskiet het.
Dié skietdag het onlangs op Bethal plaasgevind en die ammunisie is deur PMP Pro-Am geborg.
Mnr. Deas se vriendin, me. Chantelle Adendorff, het in 2011 dié nasionale kompetisie se vroue-afdeling gewen.
Sy het ook weer vanjaar deelgeneem, maar nie so goed gevaar nie.
Mnr. Deas jag graag en het ook die titel as groeperingskietkampioen op Bethal verower.
Hy het met windbukse grootgeword en neem al van kleins af aan skietkompetisies deel.
Hy het ook al op ’n jong ouderdom begin jag en sy oupa het altyd vir hom drie patrone vir die dag gegee.
Dit het hom geleer om raak te skiet en sy ammunisie oordeelkundig te gebruik.
“Beide my oupas het altyd gejag en my pa jag en my broer is ’n professionele jagter,” het mnr. Deas gesê.
Hy jag hoofsaaklik vir vleis en bewerk dit ook self as hy iets geskiet het.
Mnr. Deas loop met krukke nadat hy in 2010 sy voet in ’n ongeluk seergemaak het.
Hy werk voltyds vir die wapensmit mnr. Marius Adendorff en help met die wapens.
“Ek werk graag met my hande en geniet my werk baie,” het hy gesê.
Mnr. Deas het vir ’n paar jaar na die ongeluk, glad nie gewerk nie en verlede jaar besluit om iets met sy lewe te doen.
Hy het onlangs weer gevoel in sy voet gekry en glo hy gaan eendag weer sonder krukke kan loop.
Hy bestee sy vrye tyd graag op die internet en lees graag boeke.
Sy gunstelingboeke is enigiets oor geskiedenis en reisstories.
Mnr. Deas het die borge wat die skietdag moontlik gemaak het, bedank.



