
Marina Schoombee
Mark Lawrence, bekende plaaslike gesig op die rugbyveld, is nou skeidsregter-prestasiebestuurder.
Dié pos behels dat hy gereeld die kantore in Kaapstad en Johannesburg moet besoek wat ‘n verhuising na Durban genoodsaak het om pendel geriefliker te maak.
Hy is ook ‘n keurder vir skeidsregters van Sanzar (South Africa, New Zealand and Australia Rugby) wat hom gereeld doer onder bring.
Mark het self as senter en heelagter uitgedraf in 1989 vir die dorp totdat ‘n skouerbesering hom genoop het om die terrein van skeidregters te betree.
‘n Skeidsregter, Kobus van der Watt, het hom in 1990 uitgedaag om die skeidsregtereksamen te skryf en die uitslag vir die eerste toets was ‘n skamele 38%.
“Dit is ‘n ingewikkelde spel en jy moet jou reëls ken.
“n Nuwe wêreld het vir my oopgegaan toe ek my reëlboekie geleer het.”
In die moderne era met 700 reëls vir die spel, ondergaan skeidsregters ook fiksheidstoetse.
Volgens Mark kan mens sowat 300 laagvatte deesdae in ‘n wedstryd verwag en skeidsregters se fiksheid is ononderhandelbaar.
Terwyl hy nog self geblaas het, het hy ‘n gimnasiumprogram gevolg en draf, tesame met sy hond, het nie agterweë gebly nie.
Volgens hom was die gemiddelde ouderdom van skeidsregters in 1995 52 jaar, terwyl dit nou onder die 35 draai.
Hy beskou Suid-Afrika se eie Craig Joubert en Jaco Peyper as onder die top drie wêreldwyd.
Die skrumreëls, wat verander het, laat menige ondersteuner kopkrap.
Van die vroeë “your ball, your call” tot by “crouch and engage”, “crouch, touch, pause and engage” en nou “crouch, touch, set”.
Die skeidsregter beveel wanneer die bal ingegooi kan word en volgens Mark is die hoofrede die veiligheid van die spelers.
“Een nekbesering is een te veel.”
Hy is trots op die Pumas, ‘n klein unie, wat provinsiale status gekry het.
Die onlangse eindstryd van die “Varsity”- beker het twee skeidsregters in aksie gesien en Mark het lig op die saak gewerp.
Teoreties is daar te veel aksie op die veld en twee skeidregters help om onkant- en vuilspel uit te wys.
Die Wêreld Rugbyraad het toestemming gegee om te kyk hoe dit werk.
Sy herinnering aan die drie “Bledisloe Cup” – wedstryde waar Australië en Nieu-Seeland meegeding het, bly hom by.
“Dit was net ‘n plesier om tydens dié wedstryde te blaas.”
Volgens hom is Suid-Afrika se kanse vanjaar goed vir die Wêreldbeker in Engeland.
“Daar is soveel goeie spelers met talent en diepte.”
Dié pa van drie is met Griselle getroud en die tweelingdogters, Danielle en Nicole, het ook ‘n broer, Matthew.
Wanneer die rugby hom nie besig hou nie, is die viswater sy voorland.
O ja, dan hou hy ook van kulkuns.
“Nie op die veld nie, maar van die veld af.”



