Local sport

Boesem-vriende van Secunda gaan in Spanje hul fiksheid op die proef stel

Naldo Cronje vaar goed met net een nier en leef gesonder.

Dylan Harris (23) en Naldo Cronje (23) is al beste vriende vandat hulle ses jaar oud is.

Dié twee het vanaf 11 tot 13 September aan die goue afdeling van die International Fitness and Bodybuilding Federation (IFBB) se fiksheidsafdeling in Durban deelgeneem en gewen.

Hulle het dus deurgedring om Suid-Afrika in November in Barcelona, Spanje, by die IFBB se wêreldkampioenskap te verteenwoordig.

Cronje het ook individueel aan die silwer-afdeling deelgeneem en tweede geëindig.

Dylan Harris en Naldo Cronje het vanjaar hul eerste Cosmos 3-in-1 bergfietswedren saam aangepak. Foto: Verskaf.

Hy gaan ook in dié afdeling sy land in Spanje verteenwoordig.

Vir Cronje, wat net een nier het, is dit ‘n groot prestasie.

Dit was sy droom op skool om eendag professioneel rugby te speel. Hy het ná skool in Durban klubrugby gespeel en is gekies om vir die Sharks Academy te speel.

Die Covid-19 wêreldwye pan­demie het egter ‘n stokkie hiervoor gesteek en Cronje het teruggetrek Secunda toe.
Hy het by Sasol begin werk, waar hy opleiding kry om ‘n ambagsman te word.

Hy was, sedert hy 15 jaar oud was, jaarliks in die hospitaal omdat hy gereeld pyn in sy sy gekry het.

Die dokters kon nooit agterkom wat fout was met hom nie.

Naldo Cronje toe hy nog op skool en oorgewig was. Foto: Verskaf.

“Hulle het gesê my maag is geblok, maar die pyn het bly terug­kom,” het Cronje vertel.

Naderhand het die dokters gesê dit was sy blindederm en dit verwyder, maar drie maande later was die pyn weer terug.

Cronje is toe uiteindelik, toe hy 21 is, na ‘n spesialis in Pretoria verwys wat ‘n CT-skandering gedoen het.

Dié spesialis het gevind dit was toe nooit sy blindederm nie, maar eerder sy regternier wat nie gefunksioneer het nie en heeltemal swart was.

Sy nier is verwyder en hy moes noodgedwonge ‘n gesonder leefstyl begin leef.

Hy kon nie meer rugby speel nie omdat dit ‘n kontaksport is.

Die twee beste vriende, Naldo Cronje en Dylan Harris wat in November Suid-Afrika by die IFBB wêreldkampioenskap gaan verteenwoordig. Foto: Jana Oosthuizen.

Sy nierfunksie het na 62% en later tot 86% verbeter sedert hy gesonder begin leef het, en hy het 40kg verloor.

Hy wil mense aanmoedig om ‘n meer gesonde leefstyl te lei omdat dit goed is vir ‘n mens.

Cronje het ná sy nieroperasie by Harris, wat reeds op skool gereeld in die gimnasium geoefen het, aangesluit.

Cronje het, voordat hy en Harris die fiksheidsuitdaging aangepak het, aan liggaamsbou-kompetisies deelgeneem en dit tot by die Suid-Afrikaanse liggaamsboukam­pioenskap gemaak.

Harris ry sedert sy skooldae fiets en Cronje het so twee jaar terug saam met hom begin fietsry.

Harris oefen sowat drie of vier keer weekliks by die Dominators Den, waar hy gemengde gevegskuns doen.
Hy neem op 1 November aan sy derde kompetisie in dié sport deel.

Naldo Cronje vandat hy begin oefen het en ’n gesonder leefstyl begin handhaaf het nadat een van sy niere verwyder is. Foto: Verskaf.

Dié vriende het vanjaar ook hul eerste Cosmos 3-in-1 Bergfietswedren gedoen en as hulle nie in die gimnasium saam oefen of fietsry nie, vang hulle graag saam vis.

Cronje speel ook asksie-netbal in sy vrye tyd en doen graag houtwerk.

Die twee vriende was nog nooit oorsee nie en sien baie uit daarna om Suid-Afrika in Spanje te gaan verteenwoordig.

Hulle benodig egter R80 000 om hul droom te bewaarheid.

Enigiemand wat hulle wil ondersteun, kan hul BackaBuddy-blad besoek by Dylan and Naldo – Representing SA in Spain.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Jana Oosthuizen

I have been working for the Ridge Times newspaper for 15 years. I worked in a few other fields before starting to work for the newspaper in October 2009. I have a diploma in Journalism and the areas where I cover news include Secunda, Bethal, Trichardt, Evander, Leandra and Kinross.

Related Articles

Back to top button