Beendere van onbekende kind op plaas by Bronkhorstspruit gevind
“Êrens daar buite is daar ouers wat ’n klein seuntjie vermis."
Die beendere van ’n jong kind is op ’n plaas buite Bronkhorstspruit gevind.
Mnr. Deon Viljoen, eienaar van die plaas Roodepoort, sowat 5km noord van Bronkhorstspruit, het op die gru-vonds afgekom.
Volgens mnr. Viljoen, neem hy en sy vrou, Heleen, gewoonlik gedurende naweke hulle boerboel-honde vir ’n uitstappie veld toe. Hulle sou dan stadig met die bakkie ry en die grensdrade inspekteer terwyl die honde in die veld baljaar.
Sondag, 22 Augustus sou weer so ’n dag wees.
“Ek, Heleen, my dogter en kleinkind het die honde geneem vir hul weeklikse uitstappie. Ek het gemerk dat die honde in iets in die veld rol en het hulle geroep en vir hulle gefluit.
“Die honde doen dit gewoonlik wanneer daar ’n dooie dier in die veld lê. Hulle stink dan vreeslik en dan laat ons hulle in die spruit swem om van die reuk ontslae te raak,” het mnr. Viljoen gesê.
Volgens mnr. Viljoen, wou die honde egter nie gehoorsaam nie en het die gesin met hul bakkie nader beweeg.
Groot was die skok toe me. Viljoen ’n menslike skedel tussen die gras raaksien.

By nadere ondersoek is daar nog liggaamsdele, onder andere ’n kakebeen gevind. Daar was ook kledingstukke in die omgewing van die nabygeleë spruit gekry.
Die Viljoens het onmiddellik die Bronkhorstspruit Polisie in kennis gestel.
Volgens mnr. Viljoen het hulle as gesin nie verder op die toneel rond beweeg nie, want hulle was bevrees dat hulle dalk die toneel kon besoedel.
“Die polisie was baie gou op die toneel en het baie ure daar bestee. Nóg liggaamsdele is gevind, maar volgens die polisie is daar nog gedeeltes van die liggaam wat nie gekry kon word nie.”
Mnr. Viljoen het verder genoem dat die polisie weer op Maandag, 23 Augustus na sy plaas teruggekeer het, waar hulle die toneel verder gefynkam het.
Die liggaam blyk dié van ’n vyf- tot sesjarige seuntjie te wees, het mnr. Viljoen Streeknuus meegedeel.
Die omstandighede rondom die seuntjie se afkoms is tans nog onbekend.
Omdat sekere liggaamsdele ook nog nie gevind kon word nie, is dit baie moeilik vir die polisie om ’n identikit op te stel.
Mnr. Viljoen se plaas is in die nabye omgewing van Zithobeni en sy werkers is meestal daar woonagtig.
Mnr. Viljoen het gesê dat sy werkers uiteraard die polisie se bedrywighede op die plaas opgemerk het en begin het om vrae te vra.

“My werkers het my meegedeel dat daar glo drie kinders in Zithobeni weggeraak het waarvan twee gevind was. Daar was, volgens my werkers, egter ’n derde kind, ’n klein outistiese seuntjie, wie nooit gevind was nie.”
“Ek glo nie dat ’n Sondagmiddag-uitstappie met die honde ooit weer dieselfde sal wees nie. My vrou, kinders en selfs ek, is erg getraumatiseer deur die gru-ontdekking. Dit is mos nie iets wat ’n mens op jou plaas verwag nie,” het mnr. Viljoen bygevoeg.
“Êrens daar buite is daar ouers wat ’n klein seuntjie vermis.
“Ons familie hoop dat sy identiteit gou bekend sal word sodat sy ouers ten minste afsluiting kan kry en hulle op hul tyd oor hul kind kan treur.”
Daar kon teen druktyd geen bevestiging vanaf die Bronhortspruit Polisie verkry word nie.
Hierdie is ’n ontwikkelende storie. Lees meer in ’n volgende uitgawe van Streeknuus.



